Dit is nie net die staalbedryf in Suid-Afrika wat in gevaar is nie, die industriële agteruitgang veroorsaak nou ook onsekerheid oor die toekoms van Suid-Afrika se motorvervaardigingsektor.
Jaco Mulder, VF Plus-Gautengse LPW en hoofwoordvoerder: Handel, nywerheid en mededinging sê in ‘n mediaverklaring dat daar goeiende kommer in die motorvervaardigingssektor is.
“Dit laat die vraag ontstaan of die regering doelbewus voete sleep met kritieke beleidsbesluite, of bloot nie die vermoë het om betyds op te tree nie”.
Die motorvervaardigingsektor bly een van Suid-Afrika se belangrikste nywerhede.
Dit dra 22,6% by tot die land se totale vervaardigingsuitset, lewer meer as 115 000 direkte werksgeleenthede en ondersteun sowat 500 000 poste in die groter waardeketting.
Sowat 70% van plaaslik vervaardigde voertuie word uitgevoer, wat ’n beduidende bydrae tot die land se uitvoerinkomste lewer.
“Ten spyte van hierdie belangrike rol bly die regering traag om duidelikheid te verskaf oor die sektor se toekoms, terwyl nuwe uitdagings vinnig toeneem.
“Die opkoms van sogenaamde “WICKD”-produksie, waar voertuie feitlik volledig ingevoer en slegs finaal plaaslik saamgestel word, bedreig plaaslike komponentvervaardiging, werkskepping en tegnologiese ontwikkeling ernstig.
“Hierdie onsekerheid, tesame met swak infrastruktuur, onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening, logistieke probleme, hoë misdaadvlakke en stygende bedryfskoste, versnel Suid-Afrika se deïndustrialisering.
“Intussen bly die regering se nywerheidsbeleid agter by vinnige globale veranderinge, terwyl mededingende lande aggressief belê in hul eie motorsektore en dit beskerm,” sê Mulder.
“As die regering nie vinnig en beslissend optree nie, kan Suid-Afrika verdere beleggings verloor, duisende werksgeleenthede inboet en sy posisie as toonaangewende motorvervaardigingsentrum in Afrika prysgee.
“SA het dringend ’n duidelike, mededingende en volhoubare motorvervaardigingsbeleid nodig wat plaaslike vervaardiging, tegnologie-ontwikkeling en werkskepping voorop stel,” sluit Mulder af.
