Jong ma in baie pyn, hulp benodig
Nicoleen Basson se lewe is in 2022 omvergewerp toe sy skielik siek geword het. Verlede jaar het sy 'n operasie ondergaan, maar steeds is dit einde niet.
MEYERTON – Nicoleen Basson was gesond en gelukkig totdat sy skielik in 2022 siek geword het. Sy het eers gedink sy het ‘n maagvirus onder lede.
Vir maande daarna het sy nie lekker gevoel nie. Teen Februarie 2023 het sy ʼn hoë koors ontwikkel en mondsere. Sy het ook steeds baie maagpyn gehad en diarree.

Alhoewel hul nie ʼn mediese fonds het nie, het haar man haar na ʼn privaat hospitaal in Vanderbijlpark geneem. Hier is sy opgeneem en daar is bloedtoetse gedoen. Met ʼn hoë infeksietelling is sy gestuur vir ʼn gastroskopie en ʼn kolonoskopie.
Die dokter het pille voorgeskryf. Nicoleen het dit ʼn maand lank gebruik en beter gevoel. Daarna het die simptome teruggekeer. Die dokter het weer medikasie en immuniteitsonderdrukker svoorgeskryf, maar die keer het haar liggaam die pille verwerp en sy het sieker geword.
Weer is sy in die hospitaal opgeneem waar sy binneaarse medikasie ontvang het. Sy was skaars tuis toe slaan die koors en pyn weer toe. Intussen het die rekeninge opgehoop. Sy het besluit om in geloof te glo sy sal gesond word.
Totdat sy in 2025 inmekaargesak het. Weer is sy hospitaal toe. Sy was in erge pyn en die dokters het gesê daar is ʼn operasie wat gedoen kan word, maar dis ʼn gevaarlike een. Haar kanse om te oorleef was skraal. Haar man het intussen ʼn lening van R260 000 aangegaan om die rekening te betaal.

“Ek het in ICU wakker geword. Ek was aan baie masjiene gekoppel en het met ʼn ileostomie sakkie aan my regterkant wakker geword. Toe hul na ses dae die staples uithaal het die wond oopgegaan,” onthou sy.
Sy is huis toe gestuur, en was vir maande afhanklik van ʼn wondsuster wat die wonde moes kom skoonmaak. Alhoewel die groot snywond genees het, is daar fout by die ileostomie. Nicolene moet ʼn operasie ondergaan om die ileostomie om te keer, maar het nie geld nie.
Sy is vreesbevange om na ʼn staatshospitaal toe te gaan en is intussen met onder andere depressie gediagnoseer. Boonop het sy ook endometriose wat alles vererger. Sy sal dringend by ʼn ginekoloog en ʼn internis moet uitkom.
Die gesin betaal nog af aan vorige mediese rekeninge. Nicolene is raad op. Indien enige iemand finansieel kan bydra of as daar ʼn dokter is wat bereid is om te help, kontak haar op 064 910 7111.
