News

Instandhouding van bestaande infrastruktuur moet prioriteit wees

AfriForum hou sake fyn dop.

VANDERBIJLPARK – AfriForum het in sy kommentaar op die konsep-geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP’s) van die Matlosana-, J.B. Marks-, Metsimaholo- en Ngwathe-plaaslike munisipaliteite aangevoer dat die instandhouding van bestaande infrastruktuur as ’n prioriteit behandel moet word.

Volgens die organisasie behoort nuwe infrastruktuurprojekte uitgestel te word totdat agterstallige onderhoud aan bestaande infrastruktuur afgehandel is. Die kommentaar is gebaseer op probleme wat inwoners volgens AfriForum daagliks in Klerksdorp, Potchefstroom, Sasolburg en Parys ervaar.

AfriForum sê die grootste uitdagings in dié dorpe sluit die verswakking van padinfrastruktuur, onvoldoende instandhouding van water- en rioolnetwerke, gebrekkige infrastruktuurbeplanning, swak dienslewering en ’n gebrek aan aanspreeklikheid in.

Die organisasie voer aan dat inwoners gereeld met slaggate, riooloorlope, waterverliese, onvoldoende straatbeligting, swak afvalbestuur en verouderde infrastruktuur te doen kry.

Die organisasie het verder sy kommer uitgespreek oor wat hy beskryf as ’n gebrek aan duidelike en tydsgebonde planne in die GOP’s om bestaande uitdagings aan te spreek. Volgens AfriForum bestaan daar ook ’n wanverhouding tussen die doelwitte wat in die dokumente uiteengesit word en die toestand van infrastruktuur en dienslewering in die betrokke gemeenskappe.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-streek, sê inwoners verwag dat bestaande infrastruktuur behoorlik onderhou word en dat basiese dienste betroubaar gelewer word.

AfriForum het die vier munisipaliteite versoek om groter klem op instandhouding te plaas, begrotings vir kritieke infrastruktuur te beskerm, aanspreeklikheid vir swak prestasie te versterk en gemeenskappe meer by beplanning en die monitering van dienslewering te betrek.

Volgens die organisasie is die sentrale boodskap uit die vier dorpe dat bestaande infrastruktuur herstel en onderhou moet word voordat verdere uitbreidings of nuwe projekte aangepak word.

AfriForum waarsku dat die voortgesette verval van infrastruktuur die druk op munisipale finansies en dienslewering verder kan verhoog indien daar nie spoedig opgetree word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button