News

Skote klap tydens begrafnis in Vanderbijlpark

Roubeklaers vlug toe geweld by begrafnis uitbreek.

VANDERBIJLPARK – Wat ‘n rustige laaste afskeid vir ‘n onlangs oorlede man moes wees, het vandag in ‘n skrikwekkende oorlogstoneel ontaard.

‘n Begrafnisdiens het by ‘n plaaslike begraafplaas in chaos geëindig toe ‘n groep kulturele ingewydes groot ontwrigting veroorsaak het. Een man is geskiet, ‘n motor is aan die brand gesteek en verskrikte roubeklaers moes vir hul lewens vlug.

Volgens bronne het die geweld omstreeks 11:30 uitgebreek, kort nadat roubeklaers opgedaag het om ‘n mede-ingewyde ter ruste te lê.

Ooggetuies beweer die onrus het binne die begraafplaas begin toe twee ingewydes na bewering ‘n bejaarde man met pangas probeer beroof en aanval het.

Die bejaarde man, wat wettig gewapen was, het glo waarskuwingskote afgevuur voordat hy daarin geslaag het om die twee aanvallers te ontwapen. Die verdagtes het egter teruggevlug na hul groep, wat na bewering tot ‘n gewelddadige vergeldingsaanval gelei het.

“Hulle het teruggehardloop na hul groep, wat toe almal binne die begraafplaas begin aanval het voordat die geweld na buite oorgespoel het,” het een bron gesê.

Skote het oor die begraafplaas weerklink terwyl roubeklaers skuiling probeer soek het. Voertuie is met klippe bestook; ‘n Renault Clio is aan die brand gesteek, terwyl die vensters van ‘n blou Volkswagen Jetta, wat verbygery het, stukkend gegooi is.

Tydens die voorval is ‘n man in die been geskiet. Hy is in ‘n privaat voertuig na ‘n hospitaal geneem.

Digte swart rook het uit die brandende voertuig die lug ingestyg, wat die aandag van geskokte verbygaande motoriste getrek het. Baie het stilgehou om te kyk hoe die chaos ontvou.

Brandbestryders van Emfuleni Brand- en Reddingsdienste het die brand geblus, terwyl lede van die Openbare Orde Polisie, Vanderbijlpark SAPD en private veiligheidsmaatskappye die toneel beveilig het.

Teen druktyd het die polisie nog nie kommentaar oor die voorval gelewer nie.

Hierdie is ‘n ontwikkelende storie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button