Waarheen gaan jou R30,25 wanneer jy petrol ingooi?
Styging van petrol prys hier's hoe dit werk.
VANDERBIJLPARK – ’n Motoris wat tans R30,25 vir ’n liter 95-oktaan-petrol in Gauteng betaal, betaal nie R30,25 vir die petrol self nie.
Die prys bestaan uit die Basiese Brandstofprys, belasting en heffings, asook koste en marges om die brandstof by die pomp te kry.
Volgens die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne se amptelike Oktober-prysstruktuur is die grootste enkele komponent die Basiese Brandstofprys (BBP) van R17,44 per liter.
Dit verteenwoordig die internasionale/importpariteitskoste van die petrol voordat plaaslike heffings en ander koste bygereken word.
Van elke liter gaan R4,29 na die brandstofbelasting. Dit bestaan uit die algemene brandstofheffing van R4,10 en die koolstofheffing van 19 sent. Nog R2,25 is die Padongelukfonds-heffing.
Daar is ook 4 sent se doeane- en aksynsbelasting, ’n 0,33 sent Petroleumprodukte-heffing en die 87,66 sent Slate-heffing.
Die belasting en heffings in die DMPR se prysstruktuur beloop saam ongeveer R7,46 per liter.
Die Slate-heffing word gebruik om die verskil te bestuur tussen wat brandstofmaatskappye volgens die gereguleerde prys behoort te verhaal en wat hulle werklik verhaal.
Die heffing is in Oktober 87,66 sent per liter. Die gesamentlike petrol- en diesel-Slate-saldo was teen einde Augustus negatief met R10,456 miljard.
Die res van die prys bestaan uit koste en marges. Dit sluit onder meer ’n groothandelmarge van 66,5 sent, sekondêre berging van 39 sent, sekondêre verspreiding van 19,1 sent, ’n kleinhandelmarge van R3,20 en ’n Gauteng-soneverskil van 91,1 sent in.
Die R3,20-kleinhandelmarge moet nie as die vulstasie se netto wins beskou word nie. Dit is die bedrag wat in die gereguleerde prysstruktuur vir die kleinhandelstadium voorsien word.
Daar is ook geen 15% BTW wat bo-op die R30.25 gehef word nie. Petrol is vir BTW-doeleindes nulkoers.
Die groot rede vir Oktober se verhoging was die internasionale petrolprys.
Internasionale produkpryse het die BBP van 95-oktaan-petrol met 329,065 sent per liter verhoog. Die effens sterker rand het dit met slegs 0,171 sent verlaag.
Die uiteindelike verhoging was R3,33 per liter, bestaande uit die BBP-verhoging, ’n 4,38-sent-verhoging in die Slate-heffing en ’n klein afrondingsaanpassing.
Met ander woorde, van jou R30,25 gaan ongeveer R17,44 na die Basiese Brandstofprys, R7.46 na belasting en heffings, en ongeveer R5,36 na vervoer, berging, verspreiding, marges en ander plaaslike koste.
’n 50-liter-tenk kos tans R1 512,50.