Local newsNewsNews

Nagwedloop oor berge en dale

Bekende veearts van Sasolburg, Dr. Letitia Swartz, is baie avontuurlustig. Sy het onlangs een van SA se uitdagendste bergwedlope aangepak.

SASOLBURG – Min mense sien kans vir ʼn trail run of dan bergwedloop. Letitia Swartz doen dit sommer in die nag. Sy het onlangs aan die SkyRun in die omgewing van BarklyOos in die Oos-Kaap deelgeneem.

Hierdie bergwedloop word aangedurf op eie genade. Daar is geen waterpunte of roete-aanwysings nie. Daar is nie eens ’n uitgetrapte voetpad nie. Deelnemers laai die GPS-kaart van die roete op hul slimhorlosies af en dis al wat hul het.

Letitia Swartz geniet ‘n oomblik tydens die bergwedloop. Sy sê die area is baie mooi.

Letitia het die 38km-wedloop aangepak. Sy het Saterdag om 14:00 weggespring en in ‘n tyd van 09:55:02 klaargemaak. Dit was kort voor middernag! Dit was die 30ste SkyRun en Letitia se eerste deelname.

Sy sê jy gaan letterlik oor klippe, berge, dale, oor rotse en water. Wanneer dit donker word is dit net jy en jou koplampie. “Dis ’n ekstreme wedloop met ekstreme temperature in die berge. Dis ’n moeilike een en ’n mens het ondervinding in daardie toestande nodig,” vertel sy.

“Jy is die heeltyd net op jouself aangewese. Dis gevaarlik, want jy hardloop in die donker langs berglysies. As jy daar val…. Dit kan tot drie dae duur voordat mense jou opspoor.”

Daar is wel ’n paar kontrolepunte langs die roete waar deelnemers hul wedloopnommers moet aanmeld. Indien iemand nie by die volgende punt opdaag nie, sal die nooddienste weet in watter area om te begin soek.

Hoekom het sy dit gedoen? “Ek was altyd bang vir die donker. Verlede jaar het ek my eerste nagwedloop in Middelburg gedoen. Ek doen dit om my vrese te oorkom en my perke te toets. Vrees vir val. Vrees vir slange. Op ’n berg in die donker besef jy hoe groot die Skepping is en hoe klein jy is. Jy besef hoe groot die Here is en hoe Hy na jou kyk.”

Sy sê sy los al haar emosionele stres en bagasie bo-op die berg en sien weer kans vir alles wanneer sy die wedloop voltooi. “Daar op die berg het jy geen ander opsie as om op te staan as jy geval het nie. Dit verg alles van jou.

“Dis 50% in jou lyf en 50% in jou kop. Ek oefen hard vir elke bergwedloop en eet reg. Ek moet baie fiks wees, anders gaan ek dit nie maak nie.

“Dis vir my ’n voorreg om dit te kan doen. Ek sal graag ander wil inspireer om ook hul vrese aan te pak en hul perke te toets. As jy nie slaag nie, probeer jy weer. Dis hoe die lewe werk.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button