Lion Jay is ons Country Koning
Lion Jay mag maar sing. Sy liedjies gesels met jou siel en streel jou gemoed. Miljoene mense op verskeie musiek platforms stem saam.
VEREENIGING – Leon Jacobs, bekend as die sanger Lion Jay, se musiek is besig om opslae op die aanlyn musiek toep, Spotify te maak.
Sy album, Country Cowboy, is al meer as ‘n miljoen keer op die toep gestroom. Sy treffer, At 50 Years is al oor die 292 000 keer geluister met van die ander liedjies op die album wat ook al ver verby die 100 000 luistermerk trek.
Een van sy ander groot treffers, Yes, I love you, van die album Sentimental, is al meer as 400 000 keer gestroom. Lion Jay se nuwe enkelsnit, I love you until forever is op 30 Oktober bekendgestel en het reeds die 100 000 merk verbygesteek..
Dis moeilik om te glo dat hy maar eers vyf jaar gelede voltyds begin sing het. In dié tydperk het hy 10 albums vrygestel en 14 toekennings ontvang.
Onlangs is hy gekroon as die Algehele Beste Manlike Kunstenaar by die gewilde SACMAF Toekenningsaand. Hy is veral gewild op digitale media waar sy enkelsnitte en albums al by die 18 miljoen keer geluister is.