Gauteng stuur 16 Dae van Aktivisme in Bantu Bonke van stapel
Die stryd teen geslagsgeweld en vrouemoord moet ook na landelike gemeenskappe uitgebrei word.
MIDVAAL – Die Gautengse provinsiale regering het op Woensdag 25 November sy 16 Dae van Aktivisme-veldtog teen geslagsgeweld en vrouemoord in Bantu Bonke, ’n landelike nedersetting sowat 8 km suidoos van Drie Riviere, van stapel gestuur.
Regeringsverteenwoordigers, die polisie, gemeenskapsorganisasies en inwoners het die geleentheid bygewoon.
Volgens Merita Ground van die provinsiale regering se koördineringseenheid teen geslagsgeweld is Bantu Bonke doelbewus gekies om te verseker dat regeringsinisiatiewe ook gemeenskappe buite die groot stede bereik.
’n Hulpsentrum, bekend as ’n Green Door-fasiliteit, word vir Bantu Bonke beplan waar slagoffers van huishoudelike geweld en ander vorme van geslagsgeweld ondersteuning kan ontvang en na toepaslike hulpdienste verwys kan word.
Vir vroue in afgeleë landelike gebiede kan die afstand na die naaste polisiestasie ’n bykomende struikelblok wees wanneer hulle hulp nodig het.
Dit is veral belangrik omdat Bantu Bonke ver van die naaste polisiestasie geleë is.
Pam Pule, streeksdirekteur van die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid, het aangedui dat die departement hom ook sal beywer vir die ontplooiing van gemeenskapspatrolleerders in Bantu Bonke.
Sy het onderwysers en kleuterskoolpersoneel aangemoedig om vermoedelike gevalle van mishandeling aan te meld.
Kol. De Klerk van die polisie het tydens die geleentheid kommer uitgespreek oor die feit dat slagoffers van geslagsgeweld dikwels hul klagtes laat vaar, wat volgens haar tot lae skuldigbevindingsyfers bydra.
Sy het die belangrikheid daarvan beklemtoon om slagoffers deur die regsproses heen te ondersteun.
Die veldtog duur tot 10 Desember.
