News

Meyerton-sjef (21) slyp sy talente onder bekroonde meester

Dié geleentheid leer jong sjefs hoe om onder druk te werk en help hulle om hul voete in ’n professionele kombuis te vind.

MEYERTON – Die nuutste groep van 16 jong aspirant-sjefs by The 11th Floor maak tans hul internskappe klaar nadat hulle die praktiese opleidingsure voltooi het wat as deel van hul kulinêre studies vereis word.

Hier het hulle eerstehands ontdek wat werklik agter die swaaideure van ’n professionele kombuis aangaan.

Onder hulle is Aston Wright (21) van Meyerton. Vir hom was dit veral die vryheid om nuwe idees te verken wat hierdie opleiding na ’n heel nuwe vlak geneem het.

“Hulle het my regtig gehelp om myself hier as ’n sjef te vind. Oral elders kook jy en gaan huis toe – dis dieselfde ou storie oor en oor.

“Hier vra hulle elke dag: wat is die nuwe ding wat jy wil probeer? Wat is ’n nuwe bestanddeel wat jy nog nie gesien of gebruik het nie? Hulle wil hê jy moet leer en jouself verbeter. Dit is ’n baie verfrissende omgewing om in te wees,” sê Aston oor sy ervaring.

Uitstekende mentor

Uitvoerende sjef Kyle Marshall verwelkom elke jaar kulinêre studente in The 11th Floor se kombuis, en bied aan hulle die geleentheid om hul vaardighede te ontwikkel, met bestanddele te eksperimenteer en die pas en druk van ’n besige restaurantdiens te ervaar. Vir sommige het dié ervaring al tot permanente indiensneming gelei.

Marshall is onlangs as Beste Hoofsjef in Suider-Afrika by die 2026 World Luxury Restaurant Awards aangewys.

Vir hom, as leier van ’n span van 22 sjefs, gaan die oordra van sy kennis hand aan hand met die handhawing van die standaarde van ’n internasionaal erkende restaurant.

Terwyl die groep nou gereed maak om hul volgende stappe te neem, hoop Marshall dat die praktiese vaardighede, selfvertroue en ervaring wat hulle by The 11th Floor opgedoen het, hulle deur hul hele loopbaan sal dra.

“’n Goeie sjef hou nooit op leer nie, en daar is altyd nog ’n vaardigheid om op te skerp, net soos ’n goeie mes. Ek hoop ons interns vertrek hier met ’n groter waardering vir die ambag en die vasberadenheid om aan te hou verbeter.

“Ek wens hulle alle sterkte toe terwyl hulle die volgende tree in hul kulinêre loopbane gee,” sluit hy af.

Die nuutste kulinêre interns by The 11th Floor saam met uitvoerende sjef Kyle Marshall (links). Voormalige interns Amy Beukus (voor links) en CJ (heel regs) het intussen by die restaurant se kombuisspan aangesluit.
At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button