Advertorial

Gasvrye boere en boervroue verwelkom almal by laaste kontreimark

Besoekers wat wil, kan 'n klein Kersgeskenkie saambring wat later onder mindergegoedes by die Geloofkwekers-sopkombuis versprei gaan word.

 

Die boeregemeenskap van Goeiehoek nooi almal om Saterdag, 11 November, saam te kom kuier op die plaas Bosrand vir die laaste kontreimark van die jaar. Kom koop pragtige Kersgeskenke en artikels vir die Kersboom en feestafel, sowel as heerlike bederfies vir die vakansie wat voorlê. Vir die tuisblyers en tuinmakers sal hier genoeg wees om die hele gesin kreatief en skeppend besig te hou. Hekke open om 08:30 vir ‘n voormiddag vol pret.
Die gewilde Goeiehoek-kontreimark in Midvaal is al ‘n gunsteling by stadsjapies wat van ver af kom om plaasvars groente, vrugte, vleis, biltong, kaas en vele meer hier te koop. Moet ook nie vergeet van die spoggerige tuisgebak, konfyt, blatjang, souse en gemmerbier nie!
Dan is daar ook handgemaakte artikels vir die huis, klerekas, tuin en lapa, kunswerke, juwele, oudhede en nog talle ander interessanthede.
Soos altyd sal hier ook weer tradisionele pap en kaiings, afval en gebakte skaapkop wees, of kom val in by die teetuin vir ‘n heerlike koppie tee, boeretroos en ander eetgoed.
Bring maar genoeg kontant want beurtkrag kom soms onverwags en dan gaan die uitstallers se kaartmasjiene nie werk nie.
Besoekers kan by 11 November se mark ook mededeelsaamheid in die Feestyd toon met ‘n klein geskenkie wat by die teetuin ingedien kan word. Dit gaan versprei word onder 45 hulpbehoewendes, wat weens omstandighede afhanklik is van die Geloofkwekers-sopkombuis se kospakkies. Jou geskenkie hoef nie groot of duur te wees nie – ‘n pakkie koekies, lekkergoed of handige gebruiksartikels sal baie waardeer word. “Niemand staan onder ‘n verpligting nie. Bring iets saam as jy in jou hart voel om ‘n bietjie vreugde te saai,” nooi die organiseerders.
Vir verdere inligting oor die markdag, kontak Annatjie by 083 541 9908.
* Roeteaanwysings: Die Goeiehoek Kontreimark word op die plaas Bosrand in die Midvaalgebied gehou, sowat 12 kilometer vanaf 4Way Motors in Drie Riviere. Padaanwysings: Neem die R42-roete van Vereeniging na Heidelberg. Draai rigting Goeiehoek by die Meyerton/Goeiehoek-kruising. Na 4 kilometer vanaf die kruising, draai regs in die syaansluiting, rigting Goeiehoek. Bosrand is die eerste plaas op linkerhand ná die syaansluiting.

Kom kuier op 11 November lekker saam in die rustige plaasomgewing van Goeiehoek in Midvaal. Bring die hele gesin en ervaar ware boeregasvryheid soos van ouds!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button