Groot lyding weens staking by staatshospitaal
Hoewel die omstandighede tans uiters moeilik is, verpleeg 'n familielid van mnr. Senekal hom nou tuis in Vanderbijlpark.
VANDERBIJLPARK. – Verskeie uitdagings by staatshospitale, soos oorwerkte personeel en ‘n onhanteerbare toestroming van pasiënte, stel bomenslike eise aan die staat se reeds wankelende mediese dienste. Gru-verhale van pasiënte wat lewensnoodsaaklike behandeling benodig maar sonder hulp huis toe gestuur word, duik al gereelder op.
Mnr. Quinton Senekal (42), wat tot onlangs vir drie maande in Sebokeng-hospitaal gelê het, is een van die pasiënte wie se skokverhale ‘n mens verstom laat. Hy het in Februarie ‘n laparoskopie en noodoperasie vir ‘n maagseer in die Sebokeng-hospitaal ondergaan en het ook ‘n stoma-sakkie ontvang. Hy het weke lank met die oop operasiewond aan sy maag in die hospitaal gelê. Hoewel dit aanvanklik redelik goed gegaan het, wou die wond nie toegroei nie en vel is van sy bobeen af geoes om op die buikwond oor te plant. Die oorplanting was ongelukkig nie suksesvol nie.
Tydens hospitaalpersoneel se weke lange staking in Maart is sy wond glad nie versorg nie, met gevolg dat dit septies geraak het. Sig het daaruit gelek, en daar was geen hoop op beterskap nie omdat sy oorvol stoma-sakkie se inhoud aanhoudend oor die wond uitgeloop het sonder dat dit skoongemaak is.
Volgens mnr. Senekal se suster, Karin, het hy glad nie antibiotika gekry nie en hoewel hy voortdurend in pyn was, was pynstillers ook uiters skaars. Sy toestand het die drie maande in die hospitaal so versleg dat sy familie met die hospitaalbestuur gaan praat het om dringend hulp te vra. Die personeel het sy wond daarna weer ‘n week lank behandel, maar hom toe weer aan homself oorgelaat om dit self te versorg. Hulle het darem in ‘n stadium vir hom pleisters gegee wat hy self moes opplak as die oues te deurweek was en losgegaan het.
“Die laaste paar weke het die nagskofpersoneel vir hom gesê hulle gaan hom nie meer help nie want hy pla hulle te veel. Hy moes in ‘n stadium sy vuil beddegoed en sy klere gebruik om die wond te bedek en die kwaad wat daaruit gevloei het, op te vee,” sê Karin.
Op 29 Mei het mnr. Senekal, ‘n pa van drie, homself uitgeteken nadat die inhoud van sy stoma-sakkie weer oor die wond uitgeloop en daar drooggeword het sonder dat hy hulp van die verpleegpersoneel kon kry. Hoewel die omstandighede tans uiters moeilik is, verpleeg sy familie hom nou tuis in Vanderbijlpark. Om alles te kroon is hy in die hospitaal deur ‘n spinnekop aan die hand gebyt, en dié wond is nou ook septies. Sedert hy by sy suster se huis behandel word, gaan dit egter al heelwat beter met sy maagwond en dit lyk asof dit uiteindelik begin genees.
Mnr. Senekal het voor sy siekte en operasie onderhoudswerk saam met sy broer gedoen, maar kan sedertdien nie meer werk nie. Die gesin kry finansieel swaar en enige hulp sal baie waardeer word. Enigiemand wat mnr. Senekal en sy familie met mediese hulpmiddels, medisyne, voedsel of geld kan bystaan, is welkom om sy suster, Amelia, by 072 384 8509 te kontak.


