‘Ek gaan groot, of ek gaan huis toe’
Leonardo is al lank in die musiekbedryf, maar na 'n motorongeluk verlede jaar het hy besluit, nou gaan hy sy alles gee.

VANDERBIJLPARK. – Leonardo van Zyl is ‘n boorling van Vanderbijlpark. Musiek het nog altyd deur sy are gevloei. Sedert sy kinderdae was hy gelukkig as hy kon sing.
Hoewel hy tans saam met sy gesin op ‘n plaas in Heilbron woon, bly sy wortels in die Vaaldriehoek.

As onafhanklike kunstenaar het hy en sy vrou, Sharon hul eie produksiehuis, After Dark Musical Productions en hy het al verskeie albums die lig laat sien.
Tussen 2017 en 2022 het hy saam met Suid-Afrika se Country-legendes opgetree en later saam met Thys die Bosveldklong die land platgetoer.
Begin verlede jaar het hy die verrassing van sy lewe gehad. “Ek was geboek om saam met Armand Hofmeyr by Biekie Bos in Meyerton op te tree.
“Ek en Armand ken mekaar goed, maar daar het hy toe sy pa, Steve saamgebring. Dit was ‘n groot oomblik om saam met oom Steve te kon sing,” vertel Leonardo opgewonde.
‘n Maand later het Leonardo se drome en lewe byna aan skerwe gelê. ‘n Taxi het nie by die kruising van Barrageweg en die R57 gestop nie en Leonardo se motor aan die bestuurder se kant getref.
“Ek het bene aan my regterkant gebreek en was lank op die krukkelys. My regteroog het sleg seergekry en ek het van die gebruik van my regterarm verloor.”
Vir lank het hy deur donker waters gegaan. Dit was totdat Country Legende, Tommy Gloss vir hom gesê het: “Jy het nou genoeg gerus,” en hom vir ‘n optrede bespreek het.
Kort daarna het sake verder verbeter toe hy ‘n permanente werk by ‘n groot winkel in Heilbron gekry het. Daarna het hy vir sy vrou gesê: “Nou gaan ons groot.”
Einde 2023 het hy sy album, Classic Country Vibes bekendgestel, wat hy beskryf as “Country met skop.”
Hulle werk tans ook aan ‘n nuwe album wat lekker opskop Afrikaans gaan bevat. Intussen tree hy byna elke naweek op, van Witbank tot in Boksburg.
Leonardo se albums is beskikbaar op al die groot musiekplatforms. Volg hom gerus by https://www.facebook.com/sangerleonardo.