
MEYERTON. – As alles volgens plan verloop gaan Dewan van Helsdingen op sy 17de verjaardag sy vlieglisensie verwerf.
Die jong Vaaldriehoeker het op 5 Maart, op sy 16de verjaardag, die grootste geskenk denkbaar gekry toe hy sy eerste solovlug meegemaak het.

Om ‘n Robinson R22 of enige staalvoël te vlieg sal meeste sterflinge se maag laat draai, maar nie Dewan s’n nie. “Ek was glad nie angstig nie.
My pa vlieg self en ek is baie daaraan blootgestel. My pa het “duel” kontroles in sy helikopter aangebring en ek het so saam met hom leer vlieg. My konsentrasie was maar swak aan die begin, maar dit het baie verbeter.
Ek het in 2019 gemaklik begin vlieg,” vertel die graad 10-leerling aan Helpmekaar Kollege. Die vlieggogga het sy pa André (58), eienaar van Sensation Boats, in 2017 gebyt en die res is geskiedenis.
Dewan se solovlug op die Randse Lughawe in Germiston was die eerste trappie wat hy na 13 ure se amptelike vliegtyd geklim het en aanstaande jaar op sy verjaardag sal hy hopelik die verpligte 50 vliegure in sy logboek opgeteken hê.
Hoewel sy planne aanvanklik was om na skool ingenieurswese aan die die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer het dit verander.
Hy wil onmiddellik na skool by sy ouers se sakeonderneming inskakel en deeltyds Bedryfsrekeningkunde studeer. “My pa-hulle doen nou al 32 jaar besigheid.
My pa is die enigste een wat die ontwikkeling in die fabriek hanteer. “Ek moet dit kan oorneem,” vertel die oudleerling van die Laerskool Midvaal.
As die wyse waarop hy alles in sy lewe benader ‘n maatstaf is, gaan hy daarmee ook nuwe hoogtes bereik.