ELM-voertuig ‘begraafplaas’
Die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit skaf voertuie aan dat dit bars, maar 41 van die munisipaliteit se voertuie staan in onbruik by ‘n motorwerktuigkundige werkswinkel in Vereeniging.
VEREENIGING. – Die eienaar van ‘n plaaslike motorwerktuigkundige werkswinkel in Unitaspark wil regstappe teen die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit neem om te verseker dat die R2.7 miljoen wat die munisipaliteit die werkswinkel skuld, gedelg word.
Vaalweekblad kan onthul dat 41 diensleweringsvoertuie van ELM al vir jare by dié werkswinkel staan en stof vergader omdat die sukkelende Emfuleni skynbaar nie geld het om vir herstelwerk te betaal nie.
Die eienaar van Protea Hydraulics and Engineering, mnr. Tommy Steyn, weier gevolglik om die voertuie vry te stel.
Die voertuie op Steyn se perseel sluit onder meer vyf brandweerwaens, vullisverwyderingsvoertuie, kompakteerders, ‘cherry pickers’, bakkies en voertuie van Metsi-a-Lekoa en die munisipaliteit se elektriese departement in.


Dit laat vrae ontstaan hoekom die munisipaliteit in 2023 twee brandweerwaens teen ‘n koste van R6.2 miljoen elk aangeskaf het, terwyl talle van die munisipaliteit se herstelde brandweerwaens in onbruik op Steyn se perseel staan.
Verlede week het die munisipaliteit aangekondig dat hy 12 splinternuwe vullisverwyderingsvoertuie aangeskaf het om die agterstand in dienslewering te takel.
Steyn se maatskappy, wat voorheen aan sy pa behoort het, doen al sedert 1980 (sowat 44 jaar) sake met ELM.
Steyn vertel in hofstukke dat probleme in 2014 ontstaan het nadat sy pa dood is.
ELM is in Junie 2018 onder administrasie geplaas, weens onder meer die ineenstorting van dienslewering en onreëlmatige besteding.
Terwyl dié munisipaliteit se burgemeester, rdl. Sipho Radebe en sy burgemeesterskomiteelid vir omgewingsbestuur en beplanning, rdl. Jonas Radebe, vandeesweek in ‘n video-uitsending op sosiale media gespog het met die 19 voertuie wat hulle tot hul beskikking het om die agterstand met vullisverwydering te takel, kan die kwessie van die 41 voeruie wat in onbruik by die werkswinkel staan op die spits gedryf word.

Steyn vra in die hofstukke dat ELM hom binne tien dae betaal vir die herstelwerk wat gedoen is, sowel as die stoorkoste van die voertuie (wat ongeveer die helfte van sy 16 200 vierkante meter werkswinkel-erf vol staan).
Indien die munisipaliteit versuim, wil hy die voertuie by ‘n openbare veiling opveil.
Van die voertuie is al sedert 2016 (3 052 dae, of langer as agt jaar) op sy perseel.
Steyn kan nog verdere regstappe neem om te verseker dat die skuld ingevorder word.
Dit kan moontlik op die beslaglegging van bankrekeninge lei.
Volgens Steyn moes hy sy werkswinkel toemaak omdat hy nie langer so kon aangaan nie.

Makhosonke Sangweni, ‘n woordvoerder vir die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, het by navraag gesê die munisipaliteit is bewus van die kwessie en het in ‘n vergadering met Protea Hydraulics belê.
Die vergadering sal op Woensdag 22 Mei 2024 plaasvind.
“Vir nou sal ons nie oor die besonderhede van die saak uitwei nie, aangesien onderhandelinge tans aan die gang is. Natuurlik is daar baie dispute van albei kante in die saak.”
Volgens Sangweni sal die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit ‘n meer volledige verklaring uitreik nadat ‘n weg vortentoe bepaal is.

