Die duo en perde is onafskeidbaar
Ontmoet Zoë en Mieke Kruger, die duo verstaan die kuns van perdespring
VANDERBIJLPARK.- Die twee se oë skitter as hul van die groot liefde in hul lewe vertel, perde. Enige iets met perde en ponies.
Die dat Mieke en Zoë Kruger albei al Sedibeng kleure in perdespringkompetisies behaal het.
Hulle het onlangs aan die Gauteng SANESA Equestrian gimkana deelgeneem waar hul teen meer ervare en ouer ruiters gespring het.

Zoë het ‘n derde plek behaal en Mieke ‘n vyfde. Die groot kompetisie het by Eastern Farm in Kyalami plaasgevind en die twee het dit baie geniet.
“Ons het hierdie jaar al aan vier kompetisies deelgeneem,” verduidelik Mieke. Die tweeling is tans in graad 4 aan die Laerskool D.F Malherbe en het op 6-jarige ouderdom reeds met perdryklasse begin.
Mieke verkies eerder om ‘n baan op ‘n ponie se rug aan te durf. “Ponies is baie vinniger,” lag sy.
Sy het verlede jaar ‘n paar maal met moederaarde kennis gemaak, maar sê Jimmy by die ryskool het haar weer selfvertroue gegee. Jimmy is ‘n ou perd en dink al aan aftree.
“My afrigter kyk nou vir my eie perd om mee te spring. Ek het regtig baie by Jimmy geleer,” vertel Mieke ernstig.
Zoë stem saam. “Ons leer baie by ons perde. Ek het twee, Rose en Kiki. Kiki is eintlik nog ‘n baba, sy is wit met kolle.”

Dan is daar haar kompetisie perd, Rose. Rose is gered, maar die trauma van haar eerste twee jaar spook nog soms by haar.
“Zoë se perd skrik vir simpel goed, soos skaduwees,” skud Mieke kop. “Ja, verlede jaar het sy vir ‘n trekker geskrik en toe trek ek bo-oor haar kop grond toe. Kyk, hier sit die merk nog op my ken,” beduie Zoë.
Die Krugers het ook twee perde en ‘n donkie, Zuzu op hul kleinhoewe. Noodle en haar vul, Little Guy is besliste gunstelinge onder die sussies.
“Ons verjaar 15 Junie en dan is ons 10. Ons gaan ‘n Lilo en Stich partytjie hou en ons gaan Noodle opdress as Stich,” beduie hul opgewonde.
O ja, en volgens die borrelende duo het Noodle amptelik ingestem om as Stitch vir die dag rond te hang.
