NewsSport

Vroue-atlete van Vaal skitter by Comrades

Twee van die Vaaldriehoek se ystervroue het by vanjaar se Comrades-ultramarathon geskitter.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus, eerste.

VEREENIGING. – Vroueatlete van die Vaaldriehoek het by vanjaar se Comrades Ultramarathon geskitter.

Een van die grootste suksesverhale was waarskynlik dié van Helene van Rooyen, ‘n atleet van die Nedbankatletiekklub in Vanderbijlpark, wat ten spyte van ‘n geskeurde ligament in die hakskeen en Plantar Fasciitis ‘n silwermedalje losgehardloop het.

Helene het die wedloop in ‘n uitstekende tyd van 7 uur 12 minute en 42 sekondes kafgedraf en ‘n 17de plek in haar ouderdomskategorie (vroue 40-49) behaal.

Sy was algeheel 484ste en was die 38ste vrou wat klaargemaak het.

Helene het na afloop van dié skittervertoning op die sosiale netwerk Strava gesê: “Ek het regtig op God vertrou vir ‘n wonderwerk in die afgelope 10 dae. Hy het my nie in die steek gelaat nie. Ek het ‘n hele weermag van mense wat vir hierdie voet gebid het, en net om klaar te maak.”

Helene se spanmaat en oefenmaat, Michelle Spies, ‘n gesiggestremde atleet van Vereeniging, het die wedloop in ‘n uitstekende tyd van 7 uur 34 minute en 31 sekondes voltooi.

Dit was maar Michelle se tweede Comrades-wedloop.

Hoewel sy haar silwermedalje net-net (met minder as 5 minute) gemis het, het sy haar persoonlike beste tyd vir die Comrades-ultramarathon van verlede jaar met bykans drie uur verbeter.

Helene van Rooyen (links) en Michelle Spies (regs) van die Nedbank-atletiekklub in die Vaaldriehoek, saam met die wenner van vanjaar se Comrades-ultramarathon en rekordhouer, Gerda Steyn (middel). Foto: Verskaf

Back to top button