News

Moles in die ‘Mayoral Committee’

Een van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se burgemeesterskomiteelede is glo dié week in die pad gesteek.

MEYERTON. – Die burgemeesterskomiteelid vir paaie is glo dié week van sy pligte onthef.

Die burgemeester van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, rdh. Peter Teixeira, het Donderdag tydens sy munisipale rede lede van sy burgemeesterskomitee bedank vir hul “harde werk”.

Wat hy nagelaat het om te sê is dat hy glo vroeër vandeesweek sy burgemeesterskomiteelid vir paaie en gemeenskapsveiligheid, rdl. Gerrit Viljoen, onthef het.

Rdl. Gerrit Viljoen, burgemeesterskomiteelid vir paaie. Foto: Christiaan Cloete

Ek wil graag die lede van my burgemeesterskomitee bedank vir hul harde werk in hul onderskeie porfuljes. Spanwerk laat die droom werk,” het Teixeira gesê.

Vaalweekblad verstaan dat die stap geneem is omdat Teixeira van mening is dat Viljoen nie sy werk – spesifiek in die portefulje van paaie – doen nie.

Vaalweekblad verstaan daar was reeds gesprekke tussen Teixeira en Viljoen.

Peter Teixeira tydens sy munisipale rede Donderdag in De Deur. Foto: Christiaan Cloete

Die saak sou in Dinsdag in ‘n raadsvergadering van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit bespreek word, maar dit het nie gebeur nie.

Donderdag het Teixeira tydens sy munisipale rede ook nie ‘n woord hieroor gerep nie.

Hy het wel gepraat oor die R44 miljoen wat vir paaie begroot is in die 2024/2025 finansiële jaar en die R38 miljoen wat begroot is vir herstelwerk en instandhouding van paaie en stormwaterdreine.

Dan is daar ook melding gemaak oor die R24 miljoen wat oor die volgende twee finansiële jaar begroot is om grondpaaie in teerpaaie te omskep en nog ‘n R25 miljoen projek om grondpaaie in teerpaaie te omskep in Wyk 7.

Hy het ook gepraat van herstelwerk aan paaie en die R20 miljoen projek om Johan le Rouxweg te herstel.

Midvaal se burgemeester, Peter Teixeira, en sy burgemeesterskomiteelid vir paaie, sit Donderdag ‘n paar stoele uitmekaar uit tydens Teixeira se munisipale rede by Balmoral Estate in De Deur. Foto: Christiaan Cloete

Teixeira het by navraag gesê dat die ontheffing van die burgemeesterskomiteelid nog nie bevestig is nie.

Volgens Teixeira sal ‘n aankondiging daaroor volg.

Viljoen wou in hierdie stadium nie op navrae reageer nie.

Peter Teixeira en lede van sy burgemeesterskomitee by die heropening van Johan le Rouxweg wat teen ‘n koste van R20 miljoen opgeknap is. Teixeira is nie tevrede met die vordering wat op die gebied van paaie gemaak is nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button