MIDVAAL – ‘n Negejarige danssensasie van Meyerton het die wêreld aan haar dansende voete.
Lizay Koekemoer het pas teruggekeer van ‘n internasionale danstoer vanaf 23 Junie tot 16 Julie waartydens sy op verskeie kontinente deelgeneem én geskitter het.

het.
Sy het 28 Junie en 29 Junie aan die wêreldfinaal van die Dance World Cup in Praag in die Tsjeggiese Republiek in Europa deelgeneem, waar sy ‘n tweede plek vir Jazz en verskeie ander top 10 plekke behaal het.
Op die tweede been van haar oorsese reis het sy in die deelstaat Rhode Island in die Verenigde State van Amerika aan die American Dance Awards (1 Julie tot 7 Julie) deelgeneem, waar sy ‘ultimate goud’ in Liriese- Hip Hop en Kontemporêre Dans behaal het.
Hier het sy ook in die kategorie Liriese Dans gewen en ‘n derde plek in Kontemporêre Dans behaal.

Lizay het boonop ‘n spesiale toekenning kostuumtoekenning verwerf. (haar kostuum is deur die plaaslike ontwerper Marius de Jager ontwerp).
Sy is op grond van haar prestasie ook na Dance Offs genooi, waar sy ‘n plek in die top agt (alle style teen mekaar) verwerf het.

Tydens die derde been van die reis, is sy terug na Europa, waar sy tussen 9 en 13 Julie in Apeldoorn in Nederland aan die Global Dance Open Finals deelgeneem het.
Hier het sy in die kategorieë Hip Hop en Jazz gewen.
Sy het ook ‘n derde plek in Liriese Dans, ‘n vierde plek in Ballet en ‘n vyfde plek in Kontemporêre Dans behaal.
Sy het ‘n toekenning ontvang vir Star of the Future en ‘n beurs vir Switzerland (vir Ballet en Kontemporêre dans) ontvang.

Lizay word afgerig deur van SuidAfrika se top dansers, soos Mario Gomes van die Mario Gomes Hip Hop Dance Academy in Roodepoort, Audrey Helberg van And U Dance Studio in Pretoria, Vanessa McElligott van die Eborall Melville De Witt School of Ballet en Michelle Haasbroek van Tumble Mania in Pretoria.
Volgens haar ma, Zandri Dickason-Koekemoer was Lizay maar net twee toe sy haar eerste dansles geneem het. Nou blom sy op die wêreldverhoog.

“Toe sy twee en ‘n half jaar oud was het sy aan haar eerste vertoning deelgeneem en was absoluut versot daarop,” vertel die trotse ma.
“Lizay het van kleintyd af gesê sy dans, maar sy dans vir Jesus.”
In 2023 is sy tydens die Dance World Cup SA aangewys as die mees uitstaande solis en in vyf afdelings van die DanceStarkompetisie in Kroasië gewen.
Vroeër vanjaar is sy weer by die Dance World Cup SA as mees uitstaande solis aangewys met vyf wenne tydens die kwalifiserende rondte.
By die Global Dance Open SA is sy genomineer vir Dancer of the Globe en het sy ook ‘n beurs in Engeland (Can You Dance? In Liverpool) losgeslaan.
Sy is ook vroeër vanjaar as Hip Hop International se All Style Junior SA-kampioen vir 2024 aangewys.

