News

Midvaal-kameras help polisie om vermeende kapers vas te trek

Die verdagte voertuig met vervalste nommerplate is deur Midvaal se SNIPR-kameras opgetel.

HEIDELBERG. – Vyf vermeende kapers is Dinsdagoggend (13 Augustus) buite Heidelberg in hegtenis geneem nadat hulle glo ‘n voertuig in Vereeniging gekaap het.

Volgens Willem Sprong, voorsitter van AfriForum se Heidelberg-tak, volg hierdie sukses nadat inligting van Midvaal ontvang is oor ‘n verdagte voertuig wat in Heidelberg se rigting onderweg was.

Midvaal SNIPR-kameras. Foto: Christiaan Cloete

Die voertuig, ‘n silwer bakkie met vervalste nommerplate, is deur Midvaal se SNIPR-kamerastelsel geïdentifiseer en owerhede in Heidelberg is in kennis gestel.

Lede van Midvaal het die verdagte bakkie agtervolg en besef dat die bakkie deur ‘n BMW-sportnutsvoertuig en ‘n Volkswagen Golf vergesel is.

Omstreeks 11:40 is die voertuie by die ingang van Heidelberg (R42) opgemerk.

Die verdagtes is net buite Heidelberg in hegtenis geneem. Facebook/Willem Sprong

Die vermeende kapers is deur die polisie in hegtenis geneem.

Buurtwaglede van AfriForum, die Midvaal-vredesbeamptes, die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit se verkeersdepartement, Crime Stop, Silver Security en die Heidelberg Taxi-vereniging het die polisie bygestaan.

Nog ‘n verdagte voertuig wat deur die SNIPR stelsel geidentifiseer was, ‘n wit BMW, het weggejaag, maar is later verlate op die N3 opgespoor waar dit met ‘n pap band gestaan het.

Al vyf verdagtes is in aanhouding en die polisie ondersoek die saak.

Volgens Sprong is hierdie sukses is slegs moontlik gemaak deur die ongelooflike samewerking tussen al die betrokke partye.

Altesaam vyf verdagtes is in hegtenis geneem.

Back to top button