Speurder weer in aanhouding nadat hy borgvoorwaardes oortree
Hy was uit op borgtog, maar is weer in aanhouding nadat hy glo sy borgvoorwaardes oortree het.
VEREENIGING – ‘n Polisieman wat by die moord op Armand Swart betrek word se borgtog is Maandag 14 Oktober in die Vereeniging Landroshof teruggetrek.
Michael Pule Tau, ‘n veteraanspeurder wat glo saam met twee ander mans in April by die sluipmoord-aanval op Swart betrokke was, is weer agter tralies nadat hy glo sy borgvoorwaardes oortree het en die staat aangedring het dat sy borgtog teruggetrek word.
Tau, wat aanvanklik borgtog geweier is, is in Augustus vanjaar op borgtog van R10 000 vrygelaat en onder huisarres geplaas weens chroniese diabetes en hoë bloeddruk.
Hy het beweer dat hy mediese sorg in die tronk geweier is.

Bennie Killian, die staatsaanklaer, het op 14 Oktober ‘n aansoek gebring dat Tau se borgtog teruggetrek word nadat hy glo sy huis in Witpoortjie, Roodepoort op verskeie kere verlaat het sonder om die ondersoekbeampte in kennis te stel.
Die polisie het glo op 21 Augustus by Tau se huis opgedaag, maar hy was nie daar nie.
Hy was ook nie by die Johannesburg Sentraalpolisiekantoor soos twee individue by sy huis die polisie vertel het nie.
Later is ‘n lasbrief bekom en sy kringtelevisiekameras se beeldmateriaal is geneem om sy bewegings te bepaal.
Volgens Killian het Tau tussen 14 en 26 Augustus sy huis minstens 16 keer verlaat. In sommige gevalle het hy eers teen middernag by die huis gekom.
Tau staan saam met sy medebeskuldigdes, Tlego Floyd Mabusela en Musa Kekana tereg op aanklagte van moord, sameswering tot moord, besit van gesteelde eiendom, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.
Tau staar nou ook ‘n bykomende klag van minagting van die hof in die gesig.

Armand, ‘n pa van twee, het in April in ‘n koeëlreën voor sy werkplek in Van Riet Lowestraat in Duncanville gesterf toe daar vanuit ‘n wit voertuig op hom losgebrand is.
Hy is volgens hofstukke 23 keer geskiet. Armand se moord volg nadat bedrog met tenderpryse by Transnet aan die kaak gestel is, maar dit blyk of die aanvaller die verkeerde persoon geskiet het.
Die maatskappy vir wie Armand gewerk het, het vere vervaardig teen R3.20, maar die vere is vir R152 (‘n opgeblaaste koste van meer as 4 500%) aan die semi-staatsinstelling verkoop.
Die staatsbeheerde vrag- en logistieke maatskappy het glo ‘n besending van 8 000 van hierdie vere teen ‘n bedrag van R1.2m aangekoop, wat veel meer is as die R25 000 wat hulle eintlik daarvoor moes betaal het.
Nadat ‘n fluitjieblaser die 4 650% styging in die prys aan Transnet gerapporteer het, is daar glo R1m betaal om die fluitjieblaser te laat uithaal.
Die saak is uitgestel tot 29 November.
Tau sou op Woensdag 16 Oktober ‘n nuwe borgaansoek gebring het. Hy het egter die brogaansoek laat vaar.

