Sterrekyk om fondse vir oud-onnie in te samel
Die oud-onderwyser het geld nodig vir 'n mediese prosedure.
MEYERTON – Teleskope is op 12 Oktober na die hemelruim gerig tydens ‘n sterrekyk-geleentheid by Laerskool Midvaal ten bate van Jerry Fowlds, ‘n oud-onderwyser van die skool.
Dit is een van talle geleenthede wat gehou word om geld vir dié oud-onderwyser se mediese prosedure in te samel.
Gaste het tussen 18:00 en 19:00 die geleentheid gehad om op die skool se rugbyveld deur teleskope na hemelse voorwerpe te kyk en ná die tyd het Fowlds, ‘n entoesiastiese sterrekyker, ‘n praatjie oor die planete in die sonnestelsel en die heelal gelewer.

Fowlds se gesondheid het in 2011 ‘n negatiewe wending geneem toe hy met prostaatkanker gediagnoseer is.
Hy het bestraling daarvoor ontvang en was vir twee jaar in remissie, totdat daar in 2014 kankergewasse in sy buik gevind is.
Daarna het hy verdere bestraling ondergaan.

Die komplikasies van die bestraling het egter ‘n groot negatiewe uitwerking op sy lewenskwaliteit gehad.
Sedertdien het hy gesukkel met sy been.
Die laaste paar jaar was ‘n groot uitdaging vir Fowlds, aangesien sy been al hoe meer probleme begin gee het.
In 2023 het hy homself bedlêend bevind.
Na besoeke aan 11 verskillende dokters is vasgestel dat hy ‘n heupvervanging benodig.

Die dokter het die operasie as een van die moeilikste in sy loopbaan beskryf weens die verbrokkeling van sy been.
Dit het egter nie die probleem opgelos nie, aangesien littekenweefsel in sy lies die bloedvloei en limfdreinering beïnvloed, en senuwees vasdruk.
In 2024 het hy ‘n limfchirurg geraadpleeg wat hoopvol is dat ‘n prosedure (vier limfomleidings) sy limfdreinering sal verbeter.
Hierdie prosedure word egter nie as ‘n mediese intervensie gesien nie, omdat dit nog baie nuut in Suid-Afrika is, en word dus slegs gedeeltelik deur die mediese fonds gedek.
Die gedeelte wat hy in totaal self sal moet inbetaal word konserwatief op R100 000 beraam.
Dit sluit nie al die nasorg soos spesiale verbande, wondsorg en fisioterapie in nie.

Tot dusver het hy alle bykomende mediese koste wat nie deur sy fonds gedek word nie, uit sy eie sak betaal.
As pensioenaris kan hy egter nie meer sulke groot uitgawes bekostig nie.
Mense wat belangstel om te help kan Hettie Fowlds by 079 746 9618 skakel vir meer inligting.
Hou ook die Facebookblad Hoop op Loop vir Mnr. Jerry dop vir meer inligting, of besoek sy Backa-Buddy blad hier.
‘n Direkte EFT kan ook gemaak word aan JJ Fowlds, Capitec spaarrekening: 2303818377, Takkode: 470010, Verwysing: Operasie.

