D.F. hoofseuns nou trotse Greys
Altyd lekker om te sien hoe vorder die Vaaldriehoek se jongelinge al is hul ver van die huis af.
VANDERBIJLPARK – Preston Bennett, CW de Beer en Sebastian Bennett het twee dinge in gemeen. Hulle was al drie hoofseuns van die Laerskool D.F. Malherbe en vir hul hoërskool loopbane het hulle keuring gekry vir die gesogte Grey College in Bloemfontein.
Preston is volgende jaar in graad 11. Hy het destyds op Grey College besluit, want die man wil ‘n beroepsrugbyspeler word. Grey College verstaan van rugby afrigting en rugby speel.
“Ek slaap, eet en leef rugby,” beduie hy. Hy sien juis uit na die Desembervakansie, want hy is gekies om Grey College se eerstespan in die World Schools toernooi van 14 – 18 Desember te verteenwoordig.
Die toernooi vind jaarliks in Bloemfontein plaas. Sy jonger broer, Sebastian was hierdie jaar in graad sewe en hy durf Grey as ‘n junior volgende jaar aan.
Hy luister grootoog as die ander twee vertel van al die tradisies en die toetse wat graad 8’s moet skryf oor die geskiedenis van die skool en die koshuis, maar soos sy ouboet wil hy ‘n Grey word vir die rugby.
CW de Beer is volgende jaar in graad nege. “Ek het van kleins af gesê ek wil koshuis toe gaan,” vertel CW.
Nadat hy ‘n opedag van Grey College in sy graad ses jaar bygewoon het was dit vir hom ‘n uitgemaakte saak, ‘n Grey wou hy word en hy het.
Hy het groot planne vir 2025 wanneer hy ‘n “old guy” in sy koshuis gaan wees. “‘n Mens kan kies of jy in graad nege of 10 na die ander koshuis toe wil gaan, maar ek het gereken ek bly nog ‘n jaar in die eerste een,” beduie hy.
Die manne hou ten spyte van Vanderbijlpark se hitte hul skoolbaadjies aan. Hul dasse sit presies reg. Hulle staan op om te groet.
“Dis die reëls tannie, en tradisie,” sê CW en maak seker sy das is reg vir die foto. D.F. Malherbe kan trots wees op sy voormalige hoofleiers wat hul plek volstaan in die hartjie van die Vrystaat.
