Vier flinkbreine van Hoërskool Driehoek behaal elk 7 A’s
Driehoek se vier toppresteerders is almal meisies, wat elk sewe onderskeidings behaal het.
Sien nog foto’s van vanjaar se Driehoek-presteerders onder.
Die Hoërskool Driehoek se toppresteerders in die afgelope matriekeksamen is Clarice Kotze, Elbie Venter, Li-Marié Venter en Minette Wilke, wat elk sewe onderskeidings behaal het.
Ander Driehoek-leerlinge wat elk tussen vier en ses onderskeidings behaal het, is:
SES A’s: Ethan Greaves, Marisha Tesner en Michael Pereira.
VYF A’s: Annika Maritz, Zetske Oberholzer, Chanique Kirchenbrand en Chanel Buys.
VIER A’s: Tiané van der Merwe, Stian van Werkhoven, Sonja van der Schyff, Chloe Kotze, Mari Havenga,
Corlise Brand en Lynette Barnardo.
SEWE ONDERSKEIDEINGS VIR DIé VIER:

BO: Clarice Kotze het onderskeidings verwerf in Afrikaans, Engels (FAL), Wiskunde, Fisiese Wetenskap, Inligtingstegnologie, Ingenieursgrafika en -ontwerp, en Lewensoriëntering. Vir haar ekstra vak, Admaths, het sy ‘n uitstekende 77% behaal. Clarice het in die Hoërskool Driehoek se leerlingraad in die portefeulje: Kultuur gedien, en het gedurende haar skooljare graag aan die Vereeniging-kunstefees deelgeneem. Sy was ook ‘n ywerige netbalspeler. Sy begin vanjaar met haar studies in Rekenaar-ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria.

BO: Li-Marié Venter het A’s behaal in Afrikaans, Engels (FAL), Wiskunde, Lewensoriënteering, Rekeningkunde, Lewenswetenskap en Fisiese Wetenskap. Sy het gedurende haar skooljare graag aan debatte en aan olimpiades in rekeningkunde en Engels deelgeneem, waar sy onder meer ‘n silwertoekenning verwerf het. Die meeste van haar tyd het sy egter aan buitesport bestee: Sy het ritmiese gimnastiek (vlak 9) gedoen, waar sy by die Sentraal-Gautengdistrik eerste geëindig het, by die Gauteng-kompetisie tweede, en het ‘n sesde plek by die SA’s behaal. Sy het reeds twee afrigtingskursusse in gimnastiek voltooi, asook ‘n internasionale afrigtingskursus, FIG 1. Li-Marié beplan om vanjaar in Aptekerswese aan die Universiteit van die Witwatersrand te gaan studeer.

BO: Minette Wilke het onderskeidings behaal in Inligtingstegnologie, Fisiese Wetenskap, Lewenswetenskap, Wiskunde, Afrikaans, Engels en Lewensoriëntering. Dié slimkop was van haar Graad 8-jaar af onder die top-tien in al haar grade. As deel van Driehoek se A-span was sy die toppresteerder in die Fisiese Wetenskap Olimpiade; sy het die vaktrofee in Engels ontvang en was ook die toppresteerder in Driehoek-deelnemers se DigiSpel. Minette begin vanjaar haar studies in Chemiese Ingenieurswese aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

BO: Elbie Venter kan spog met A’s in Afrikaans, Engels, Lewensoriëntering, Wiskunde, Inligtingstegnologie, Fisiese Wetenskap, en Ingeneursgrafika en Ontwerp. Sy het ook reeds in 2022 haar NQF Vlak 4 in drama met 91% aan die Akademie vir Dramakuns geslaag. Elbie is mal oor kultuur, veral redenaarskompetisies. Sy het verlede jaar by die ATKV Redenaars ‘n nasionale tiende plek behaal, en by Oppie-Tong-Af Redenaars ‘n nasionale eerste plek – albei in die afdeling: Afrikaans Huistaal (voorbereid). Sy het ook as onderhoofmeisie in Driehoek se matriekraad gedien. Elbie begin binnekot met haar studies in Meganiese Ingeneurswese aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.
Nóg Driehoek-leerders wat hul skool se naam hoog gehou het:














NOGMAALS BAIE GELUK AAN AL DIE UITBLINKERS, SOWEL AS AAN ELKE MATRIKULANT WAT GESLAAG HET, EN ELKE ONDERWYSER EN SKOOLHOOF WAT BAIE HARD GEWERK HET!
