Anli en Rosie is ‘n gedugte span op en van die baan
Rosie se lewe het drasties verander die dag toe die Van den Heevers haar huis toe gebring het, en vir Anli was Rosie die hartperd waarvoor sy jare gewag het.
SASOLBURG – Die storie het vier jaar gelede begin. Anli van den Heever, ‘n graad 12 leerder aan die Hoërskool Transvalia, wou haar eie perd hê. Haar pad het met die van die jonge Rosie gekruis en vir Anli was dit liefde met die eerste oogopslag.
Rosie het nie dadelik die gevoel gedeel nie. Op daardie stadium was sy maer, nie lus vir mense nie en glad nie gewillig om te leer nie.

Anli se ma, Annalize onthou sy het nog gevra of hulle nie liewer ‘n ander perd moet kry nie, want “die perdjie het vir my maar bietjie dooierig gelyk.”
Anli het nie saamgestem nie. Vir die eerste jaar is Rosie gelos dat sy haar dae in die veld deurbring. Al waaroor sy opgewonde geraak het was haar kos.
Nie dat sy baie alleen was nie. Anli het gereeld ‘n stoel uitgedra en naby haar perd gesit en huiswerk doen. Die twee het ‘n onbreekbare band gevorm.
Sowat 18 maande gelede het ‘n perdry instruktrise begin om Rosie saam met Anli te skool. Van die ou maer perdjie was daar nie meer sprake nie. Sy was in uitstekende kondisie en ‘n vinnige leerder, wanneer dit haar pas.
Vandag word Rosie beskryf as vinnig, lewendig, warm en bietjie hardkoppig. In 2024 het Anli oefenskoue met haar begin doen.
By hul eerste SA Western Mounted Games (SAWMGA) het hulle dit rustig en stadig gevat. Daarna moes Rosie Parys toe vir twee kwalifiserende rondtes.
Blykbaar hou Rosie nie van Parys nie, want sy het summier vasgesteek en botweg geweier om in die perdeboks te klim. Hierna is sy weer met hope geduld geleer om in en uit die perdesleepwa te klim.
Dit was te laat om vir SAWMGA se nasionale kompetisie te kwalifiseer, maar die duo het wel aan die beginnersuitdaging van die South African National Equestrian Schools Association op vlak 0 deelgeneem en algeheel tweede geëindig.
2025 het op ‘n hoë noot begin. Op 25 en 26 Januarie het hulle uitstekend gevaar by die SAWMGA Q1 en Q2 in Meyerton. Weens hul goeie tye is hulle sommer op die eerste dag van vlak0 na vlak 2 bevorder.
Daarna is hulle in vlak 2 beoordeel en is met ‘n tweede en derde plek op dag een en twee beloon.
Hierdie keer was Rosie so ingenome met al haar rosette, sy wou nie inklim om terug huis toe te gaan nie.
Hulle kompeteer weer Februarie in Sasolburg. Anli hoop om hierdie jaar vir die nasionale kampioenskappe te kwalifiseer.
