
VANDERBIJLPARK – Om te verloor is een ding.
Maar om die beter span op die veld te wees en op die telbord te verloor is ‘n ander ding.
Dit is die bitter pil wat die HS Transvalia se eerste rugbyspan vandag in Kempton Park moes sluk toe hy met 29-17 deur Menlopark in die halfeindronde van die NWU sportreeks geklop is.
Die telbord was beslis nie ‘n ware verteenwoordiging wat op die veld plaasgevind het nie. Transvalia het 13 punte met swak korrelwerk pale toe in die water gegooi. Iets wat lank by hulle sal spook.
Maar mens gooi nie die baba saam met die badwater uit nie. Daarvoor is daar te veel positiewes.
In die ander halfeindronde van die reeks het HS Waterkloof vir die HTS Middelburg met 26-22 geklop om die eindstryd in ‘n Jakarandastad derby te verander.