AfriForum herstel paaie naby Eureka Skool
AfriForum se Vereeniging-tak het self ingespring om slaggate rondom Eureka Skool te herstel ná jare se vrugtelose versoeke aan die munisipaliteit.
Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (14 Maart – 20 Maart) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.
VEREENIGING – AfriForum het onlangs gehelp om broodnodige instandhoudingswerk aan paaie rondom Eureka Skool te doen.
Die skool het onlangs ’n dringende e-pos aan AfriForum gestuur oor die haglike toestand van die paaie rondom die skool.
Volgens die skoolbestuur hou die slaggate en verswakte teeroppervlaktes ’n ernstige risiko vir die veiligheid van leerders en die skool se busdiens in.
Hulle het herhaaldelik hulp by die Emfuleni Munisipale Raad gesoek, maar sonder enige reaksie.

AfriForum se Vereenigingtak het vinnig op die noodkreet gereageer en besluit om self die probleem aan te pak.
Met behulp van agt ton teer het hulle die paaie rondom die skool herstel, wat die veiligheid van die kinders en personeel aansienlik verbeter het.
Tydens die besoek het AfriForum nog ’n kwessie opgemerk – daklekkasies by die skool.
Om verdere skade aan die geboue te voorkom, het hulle 400l rubberverf aangekoop om die lekkasies te verseël.
Sekuriteit Sonder Grense het ook hand bygesit, nie net met die herstelwerk nie, maar ook met hul volgehoue pogings om die gemeenskap skoon en veilig te hou.
“Die projek het weereens bewys: ‘Ons doen dit self’,” meen Innes Erasmus, voorsitter van AfriForum se Vereeniging-tak.

