MEYERTON – Die reuse skorsie, Selah, wat vroeër vandeesmaand as die grootste groente by die Goliat van Gat Pampoenfees gekroon is, is onlangs opgesny en uitgedeel aan verskeie organisasies in Meyerton.
Die indrukwekkende groente, wat ‘n gewig van 671kg behaal het, het nou ‘n nuwe doelwit gekry: om honger magies te voed.
Wykus Lamprecht het die inisiatief gelei om Selah se kosbare inhoud aan gemeenskapsorganisasies en skole te versprei.
Hy het spesiale dank uitgespreek aan die personeel van Terravita Soil Enhancement, AgriLibrium en Melior, wat gehelp het om hierdie projek suksesvol af te handel.
Van die begunstigdes sluit in Ons Winkel Meyerton, Lerato Child and Youth Care Centre, Helpende Hand, Eagles Wings, Laerskool Midvaal, Laerskool Republiek en ander nie-winsgewende organisasies.

Die pampoen is in kleiner stukke gesny en verskeie instansies het reeds begin om heerlike maaltye daarmee voor te berei.
“Volgende week loop almal in die dorp met mooi geel krul hare,” het Wykus skertsend gesê, en verduidelik dat die binneste gedeelte van Selah, tussen die stingel en die vlees, sommer rou geëet is.
“Dis glo regtig baie lekker en smaak eersteklas. Soet, tekstuur soos ryp waatlemoen se kroon!” het Wykus verder bygevoeg.
Met ‘n tikkie nostalgie het hy ook erken dat dit vir hom ‘n bitter-soet oomblik was om sy trotse reuse groente in stukke te sny.
“Dit was gemengde gevoelens, soos om jou eie verjaarsdagkoek op te sny,” het hy laggend gesê.
Selah het dus nie net indruk gemaak op die pampoenfees nie, maar ook ‘n verskil in die gemeenskap gebring.
Die reuse skorsie se verhaal is ‘n bewys dat grootsheid nie net in grootte gemeet word nie, maar ook in impak.

