Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) sê hy het ‘n derde sluishek by die Vaaldam oopgetrek.
Volgens die DWS is die sluis Dinsdagmiddag om 12:00 middag oopgetrek om toenemende waterinvloei wat veroorsaak word deur die deurlopende reënval, te bestuur.
Dit sal die uitvloei van water uit die Vaaldam na ongeveer 400 kubieke meter per sekonde (mᵌ/s) verhoog.
Hierdie stap is geneem nadat die Vaaldam ‘n kapasiteit van 107,30% bereik het.
Die huidige damvlak vereis voorsorgmaatreëls om veilige watervlakke te handhaaf.
Die departement sê die drie sluishekke is steeds binne die veilige operasionele grense en het die publiek verseker dat daar geen risiko van oorstromings stroomaf is nie.
Die watervrystellings is in reaksie op die stygende watervlakke by onder meer die Grootdraai Dam in Mpumalanga.
Die Grootdraai Dam, wat in die Boven-Vaalrivier opvanggebied geleë is, het ook sy watervrystellings verhoog met ‘n sluishek wat nou 1,5 meter oop is.
Die huidige vlak van die Grootdraai Dam staan tans op 103,37%.
Intussen is die vrystelling van water by die Bloemhofdam tydelik weens onderhoudswerk gestaak, maar die DWS beplan om die vloei te hervat sodra die werk later vandag voltooi is.
Die verhoogde uitvloei van die Vaaldam word verwag om Bloemhof binne die volgende 3 tot 4 dae te bereik, wat moontlik die watervlakke daar kan verhoog.
As gevolg hiervan sal watervrystellings by Bloemhof aangepas word om oorstromings stroomaf te voorkom.
Die DWS sê hy monitor die situasie noukeurig as deel van deurlopende damveiligheidsmaatreëls en om volle bergingskapasiteit te verseker teen die oorblywende deel van die reënyseisoen.
