Gemeenskapspatrolleerders bewus van moontlike landswye staking Vrydag
‘n Nasionale protesaksie en mars na die Uniegebou word glo vir Vrydag beplan.
OPDATERING 2025/04/02 – 15:15
Die Gautengse gesamentlike operasiesentrum (GOS) sê hoewel hy bewus is van boodskappe wat sirkuleer oor moontlik protesoptredes by die Uniegebou Vrydag, niks nog in hierdie stadium bevestig kan word nie.
Volgens die GOS is daar tans geen rede tot paniek nie.
“Ons is bewus van boodskappe wat sirkuleer oor moontlike betogings by die Uniegebou op Vrydag, 4 April 2025. Sommige kennisgewings het ook hoërisiko-aktiwiteite soos ‘n ‘nasionale stilstand’ of ‘Occupy Union Buildings’ genoem.
Ons waardeer die bekommernis en wil almal inlig dat, alhoewel hierdie gebeure nog nie bevestig is nie, die GOS sal voortgaan om die situasie saam met wetstoepassingagentskappe te monitor. Daar is tans geen rede tot paniek nie. Ons sal die gemeenskap op hoogte hou oor enige situasies wat ‘n risiko vir veiligheid mag inhou,” het die GOS op hulle amptelike WhatsApp uitsaaikanaal gesê.
GOS het ‘n beroep op die publiek gedoen om betroubare bronne vir inligting en slegs geverifieërde nuus te diel ten einde onnodige vrees en paniek te voorkom.
Die GOS het benadruk dat hoewel plasings op verskeie groepe en kanale mag verskyn, die GOS se WhatsApp kanaal die enigste amptelike waarskuwingskanaal van die die GOS is.
——————————————————————————————————————————————————–
MEYERTON – Die Midvaal Gemeenskapspatrolleerders sê hulle is bewus van ’n landswye staking wat deur Defend South Africa beplan word vir Vrydag, 4 April.
Die organisasie eis die onmiddellike bedanking van Cyril Ramaphosa as president en staatshoof van Suid-Afrika en het glo ’n optog na die Uniegebou beplan.
Sommige vrees dat hulle beoog om die Uniegebou te beset en dat mense met geweld gedreig gaan word om aan die optog deel te neem.
Volgens ’n boodskap deur die Midvaal Gemeenskapspatrolleerders is die SAPD ook bewus van die beplande aksie en sal hulle die situasie in Meyerton monitor.
Die Midvaal Gemeenskapspatrolleerders is bereikbaar by 071 882 5621.

