Boekhouer verskyn weer vlugtig in hof
Sy het glo geld by 'n motorhandelaar in Vereeniging verduister toe sy as sekretaresse/boekhouer daar gewerk het.
VEREENIGING – Pleitverrigtinge in die hofsaak van die sekretaresse/boekhouer wat na bewering R7.3m by ‘n motorhandelaar van die stad verduister het, kan moontlik eers op 14 Mei in die streekhof in Vereeniging voortgaan.
Joané van de Gevel word deur haar voormalige werkgewer, Johannes Jurgens Hattingh (65), eienaar van Martin Morgan Motors, daarvan beskuldig dat sy in ‘n jaar se tyd miljoene by sy maatskappy verduister het.
Van de Gevel het verlede week weer vlugtig in die streekhof verskyn, maar die saak kon nie voortgaan nie, want die beskuldigde se prokureur het blykbaar eers Woensdag die saakdossier bekom.
Die saak is tot 14 Mei uitgestel sodat die prokureur instruksies van sy kliënt kan neem.
Van de Gevel was, in die tyd wat sy na bewering die geld by Martin Morgan Motors verduister het, glo besig om ‘n opgeskorte vonnis vir diefstal uit te dien nadat sy voorheen by ‘n ingenieursmaatskappy gesteel het.
Van de Gevel, wat vir langer as ‘n dekade vir STAHL Crane Systems as diensbestuurder gewerk het, het glo byna ‘n miljoen rand (volgens hofdokumente tussen R940 000 en R961 767) by die onderneming gesteel waar sy as een van die “mees betroubare personeellede” gereken was.
Sy het volgens hofdokumente skuldig gepleit en berou oor haar dade uitgespreek.

