Ses sluise by Vaaldam oopgetrek
Teen Donderdagmiddag sal daar ses sluise by die Vaaldam oop wees.
BELANGRIKE OPDATERING (2025/04/24 – 14:57)
Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) het sy besluit rakende sluise by die Vaaldam aangepas weens vinnig stygende waterinvloei as gevolg van swaar reënval in die Vaaldam se opvangsgebied.
In teenstelling met die vroeëre plan om die vyfde sluishek om 16:30 oop te trek, is dit nou bevestig dat dit vroeër, om 14:30, oopgetrek sal word, gevolg deur ’n sesde sluishek om 16:00.
Teen laatmiddag sal ses sluishekke dus oop wees om ’n invloei van 2 056,50 kubieke meter per sekonde (m³/s) te hanteer.
Die Vaaldam was teen middagete op 113,54% van kapasiteit.
Verder stroomaf word uitvloeie by die Bloemhofdam dienooreenkomstig verhoog om die stygende vlakke te bestuur.
Die vrystellings het gestyg van 800 m³/s tot 1 050 m³/s om 09:00; 1 300 m³/s om 11:00; 1 550 m³/s om 13:00; 1 800 m³/s om 15:00; en sal 2 000 m³/s bereik teen 17:00. Die Bloemhofdam het op 107,30% gestaan teen middagete.
By Grootdraaidam bly een sluishek oop, met die dam op 105,71% en invloei van 141,72 m³/s. Beide die Gariep- en Vanderkloofdamme in die Oranjerivierstelsel loop oor, en is onderskeidelik op 107,13% en 105,3%.
Die DWS waarsku dat beheerste en onbeheerde vrystellings van hierdie damme kan veroorsaak dat rivierbanke oorstroom langs die Vaal- en Oranjeriviere.
Inwoners in laagliggende gebiede binne die 1-in-100-jaar vloedlyn word aangeraai om ontruim te bly en oorstroomde gebiede te vermy.
———————————————————————————————————————-
2025/04/24 – 10:30
DENEYSVILLE – Inwoners langs die Vaalrivier is gewaarsku dat die Departement van Water en Sanitasie Donderdag 24 April nog twee sluise by die Vaaldam sal ooptrek. Dit sal die totale hoeveelheid sluise wat oop is na vyf bring.
Die departement het Donderdag om 10:00 ‘n vierde sluis oopgetrek en sal om 16:00 ‘n vyfde sluis ooptrek.
Die Vaaldam ervaar tans ‘n verhoogde invloei weens swaar reënval in die dam se opvangsgebied.
Mense wat onder die vloedlyn van die Vaalrivier, stroomaf van die Vaal- en Bloemhofdamme woon en ontruim het, moet voortgaan om die oorstroomde gebiede te vermy aangesien die rivieropvanggebied oorversadig bly.
