News

Valia-matrikulant as Mej Tiener gekroon

Die loopplanke van Parys roep haar naam.

VANDERBIJLPARK – Die 18-jarige Lené Janse van Rensburg, ‘n matrikulant aan die Hoërskool Transvalia en student aan die ACE Modelsmodelskool, het vroeër vandeesmaand geskitter by die Miss Global Princess Africa 2025 kompetisie in Johannesburg.

Lené is as algehele wenner van die Mej Tiener-afdeling (meisies 16–18 jaar) van die kompetisie aangewys.

Die glansryke gala-geleentheid is tussen 3 en 7 April by die Dynasty Forest Hotel in Sandton gehou, met deelnemers van regoor die vasteland van Afrika wat deelgeneem het.

Die deelnemers is beoordeel op hul onderhoude, en kon deelneem aan ’n modeparade, waartydens hulle onder meer in nasionale- en aanddrag gepronk het.

Lené het nie net die Mej Tiener-titel verower nie, maar ook onderskeidings ontvang in verskeie spesiale kategorieë soos Mej Fotogenies, Miss Congeniality, Girl Boss én Interview en Photo Shoot.

Lené Janse van Rensburg het ‘n magdom toekennings verwerf.

Lené, wat deur haar modelafrigter Natasha MenoCosta opgelei is, is geen vreemdeling in die glanswêreld nie.

In 2022 het sy Miss Sedibeng Junior Teen gewen en ’n Top 5-plek behaal in die internasionale Miss Pre Teenkompetisie.

In 2023 het sy die Legacy-afdeling van Miss Sedibeng gewen en ook aan die nasionale ACE Modelskonferensie deelgeneem.

Sy is ook ‘n voormalige wenner van Miss Southern Gauteng. Oor haar ervaring in Sandton sê Lené:

“Ek het skaars geslaap. Dit was wonderlik, uitputtend, maar opwindend. Ek het vriende gemaak en baie geleer van ander kulture.”

Sy het spesiale vriendskappe gesmee met deelnemers van George en Polokwane.

As deel van haar oorwinning is Lené gekies om Suid-Afrika in Oktober by die internasionale Miss Global Princesskompetisie in Parys, Frankryk, te verteenwoordig.

Enigiemand wat graag finansieel wil bydra tot haar reis, kan haar ma, Celmé Janse van Rensburg, kontak by 082 889 5384.

Lené Janse van Rensburg, wenner van die Mej Tiener-afdeling (meisies 16–18 jaar) by die Miss Global Princess Africa 2025 kompetisie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button