News

KYK: Selfoondief bedrywig in Meyerton se sakekern

Besigheidseienaars word gewaarsku teen dié man.

MEYERTON – Besigheidseienaars in die Meyerton-sakekern word aangemoedig om waaksaam te wees ná ’n beweerde diefstal wat onlangs by ’n plaaslike winkel plaasgevind het.

Die voorval het omstreeks 07:00 op 17 April by Heavenly Pets-troeteldierwinkel op die hoek van Loch- en Holidaystraat afgespeel.

‘n Video, wat op die winkel se geslotekringtelevisietoesigkameras vasgevang is en met Ster gedeel is, wys hoe ’n man ’n agterkamer binnegaan.

In die video blyk dit dat hy twee tasse, vermoedelik van personeellede, ooprits voordat hy ’n selfoon uit een van die tasse neem en haastig die perseel verlaat.

Die vermeende selfoondief soek vir iets om te steel.

Die man het ’n ligte grys baadjie, ’n donkergrys trui, swart broek en ’n pet gedra.

Die man se identiteit word in hierdie stadium beskerm, aangesien hy nog nie amptelik geïdentifiseer of aangekla is nie.

Carina Swart, ’n plaaslike inwoner wat die voorval onder die publikasie se aandag gebring het, sê die saak is nog nie by die polisie aangemeld nie.

Sy glo egter dat ander besigheidseienaars in die omgewing bewus gemaak moet word van die voorval en ekstra voorsorgmaatreëls moet tref, veral tydens vroeë oggendure wanneer winkels oopmaak.

Alhoewel daar nog geen formele klagtes aanhangig gemaak is nie, word besigheidseienaars aangeraai om hul sekuriteit na te gaan, personeel se besittings veilig te bêre en enige verdagte aktiwiteit aan die owerhede te rapporteer.

Enigiemand met inligting oor die voorval word aangemoedig om die plaaslike polisie of die besigheid direk te kontak.

Ster het die polisie in Meyerton, gekontak, maar wag nog vir terugvoer.

Besigheidseienaars word gewaarsku om waaksaam te wees vir hierdie man.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button