Emfuleni-inwoners moeg vir Raai Raai Riepa speel
Inwoners van Emfuleni sê hulle is moeg om elke maand Raai Raai Riepa te speel.
VEREENIGING – Inwoners van Wyk 45 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit het breekpunt bereik oor foutiewe munisipale rekeninge wat voortspruit uit geskatte, of soos hulle dit noem, “raai-raai”, meterlesings.
Elize Aucamp, raadslid vir Wyk 45 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, sê ten spyte van verskeie pogings om die probleem op te los, ontvang inwoners steeds onakkurate rekeninge.
In ‘n poging om inwoners te help het Aucamp ‘n WhatsApp-groep begin waar lesings direk ingedien kan word.
Hierdie lesings word dan aangestuur na die kontrakteur wat verantwoordelik is vir meterlesings in die gebied.
Aucamp sê selfs hierdie poging het geen merkbare verbetering gebring nie.
“Die situasie is só onduidelik dat selfs die munisipaliteit se finansiële afdeling blykbaar geen antwoorde het nie. Die munisipaliteit het inwoners aangesê om elke maand hul eie lesings persoonlik in ‘n boek by die munisipale kantoor te gaan skryf — ‘n metode wat verwarring eerder as oplossings bring,” sê Aucamp.
Sy het intussen ‘n brief aan die munisipale bestuurder gerig en verduideliking geëis oor waarom daar steeds van kontrakteurs gebruik gemaak word vir meterlesings, terwyl inwoners self hul lesings moet gaan aanmeld.
“Die huidige proses is verwarrend en inkonsekwent,” sê Aucamp.
“Inwoners verdien deursigtigheid en behoorlike dienslewering. Hierdie situasie kan nie so voortduur nie.”
Tot die probleem uitgestryk word, bly Wyk 45 se inwoners vasgevang in ‘n gebrekkige stelsel.

