News

Kinderwelsyn SA se Vanderbijlpark-kantoor sluit tydelik

Die welsynskantoor in Vanderbijlpark is genoop om sy deur te sluit te midde van die landwye finansieringskrisis deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.

VANDERBIJLPARK –Kinderwelsyn Suid-Afrika (CWSA) se plaaslike tak is Maandag genoop om sy deure te sluit nadat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DMO) glo nie die organisasie betaal het nie.

Dié voorval beklemtoon die breër finansieringskrisis by welsynsorganisasies landwyd.

In ’n brief wat CWSA se kantoorbestuurder, Magda de Man, Maandag uitgestuur druk sy haar misnoë oor die situasie uit.

Sy noem dat maatskaplike werkers nie meer vervoer kan bekostig nie en gevolklik sukkel om hul eie finansiële verpligtinge na te kom, insluitend mediese sorg vir hul kinders.

“Ons personeel is toegewy aan diens, maar hulle kan eenvoudig nie meer die koste dra sonder ondersteuning van die staat nie,” het De Man geskryf.

Sy het die belangrike rol van die kantoor in die gemeenskap beklemtoon en gewaarsku teen die negatiewe impak van die sluiting op beide kwesbare kinders en professionele maatskaplike werkers.

Hierdie voorval is deel van ’n nasionale patroon van betalingsvertraging en administratiewe versuime deur die DMO.

In Gauteng alleen het verskeie nie-winsgewende organisasies (NWO’s) gerapporteer dat hulle vir maande lank sonder betaling werk, ten spyte daarvan dat diensvlakooreenkomste onderteken is.

Administratiewe foute, soos verlore dokumente, is dikwels as rede vir nie-betaling aangedui.

Dienslewering aan gemeenskappe het ernstig daaronder begin ly, met noodsaaklike dienste soos middelmisbruik-behandelingsprogramme wat veral swaar getref is.

Die finansieringskrisis het reeds verskeie kinder- en jeugsorgsentrums gedwing om hul dienste te verminder of permanent te sluit.

Kinderwelsyn Suid-Afrika speel ’n sleutelrol in die beskerming van kinders se regte.

Die organisasie bied dienste aan soos pleegsorg en aanneming.

Die sluiting van die Vanderbijlpark-kantoor beteken dat hierdie dienste in daardie gemeenskap opgeskort word, wat kinders aan groter risiko’s van mishandeling en verwaarlosing blootstel.

Die voortdurende finansieringskrisis beklemtoon die dringende behoefte aan volhoubare, betroubare staatsondersteuning om die voortbestaan van kritieke welsynsdienste in Suid-Afrika te verseker.

Die brief waarin CWSA se Vanderbijlpark kennis gee van die tydelike sluiting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button