News

Motor bars deur heining ná voertuig slaggate tref

Die motoris het glo slaggate in Zealaan getref waarna hy beheer oor die voertuig verloor het.

VEREENIGING – ‘n Ongeluk wat Sondagmiddag in Arconpark gebeur het, het die kollig op die toestand van paaie in dié buurt gewerp.

‘n Motoris het Sondagmiddag (11 Mei) beheer oor sy voertuig verloor en deur ‘n palissadeheining gebars nadat hy ‘n slaggat in Zealaan, Arconpark, getref het.

Volgens inligting wat deur die plaaslike sekuriteitsmaatskappy Sekuriteit Sonder Grense verskaf is, het die voorval omstreeks 16:50 plaasgevind.

Die voertuig op sy sy gekantel.

Die maatskappy se kontrole- en reaksie-eenhede het op die toneel gereageer ná ’n oproep oor die ongeluk ontvang is.

Met aankoms het hulle ’n voertuig op die toneel aangetref wat beheer verloor het, blykbaar as gevolg van slaggate in die padoppervlak.

Die motor het van die pad af beweeg en deur die palissadeheining van ’n woonhuis gebars voordat dit tot stilstand gekom het in die tuin van die erf.

Die voertuig het deur ‘n palisadeheining gebars en in die tuin tot stilstand gekom.

Geen beserings is op die toneel aangemeld nie. Sekuriteit Sonder Grense het gehelp om die toneel te beveilig en veiligheid te verseker totdat verdere hulp, indien nodig, sou opdaag.

Beelde van die toneel toon beduidende skade aan die heining, en die voertuig wat op sy dak tot stilstand gekom het binne die erf.

Alhoewel die oorsaak van die voorval ondersoek word, blyk dit of die swak toestand van die pad ’n bydraende faktor was.

Inwoners van Arconpark het al voorheen kommer uitgespreek oor die verslegtende toestand van paaie in die gebied en die hoeveelheid slaggate in verskeie strate.

Sekuriteit Sonder Grense se reaksievoertuig op die toneel.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button