Meyerton-skietery: ‘As die koeël hom op ‘n ander manier getref het kon hy dood gewees het’
Hy kon dood gewees het.
MEYERTON – “Ons is geskok. As hy net op ‘n ander manier getref is was hy dood. Ons sê net dankie vir die Here.”
Só het Kobus Greyling, die pa van Adriaan Greyling (15), die leerder van Hoërskool Dr. Malan wat glo Dinsdagoggend deur ‘n dwaalkoeël getref is, aan Vaalweekblad gesê.

Adriaan was glo op die tweede verdieping van die skool toe die dwaalkoeël Dinsdagoggend eers ‘n sementblad getref en hom skrams in die knie getref het.
Vaalweekblad het Kobus uitgevra oor die polisie se verklaring waarin daar gesê word dat berigte dat ‘n leerder geskiet is onwaar is “aangesien die polisie na die skool gegaan en bevestig het dat geen leerder tydens die skietery beseer is nie.”
Volgens Greyling is die projektiel wat by die toneel opgetel is aan die polisie oorhandig.
Die polisie het volgens hom ook ‘n verklaring by sy seun geneem.

“Die wond stem ook ooreen met die vorm van die projektiel,” het Greyling aan Vaalweekblad uitgewys.
Adriaan is volgens Kobus na die hospitaal geneem vir waarneming. Die wond is gelukkig oppervlakkig en geen bene is gebreek nie.
Gevra hoe dit met Adriaan gaan het Kobus gesê: “Hy is 100%. Hy is n sterk seun.”
Adriaan is ‘n lid van die Hoërskool Dr. Malan se o16-rugbyspan.

