News

Bek-en-klouseer steek kop uit in Midvaal

‘n Openbare waarskuwing is reeds uitgereik.

MIDVAAL – ’n Bevestigde uitbreking van bek-en-klouseer is aangemeld in beeste wat in gemeenskaplike weiding naby die R550 en die Synag-melkery in die Witkop-gebied wei.

Die staat veearts, dr. D. Mpofu, het in ’n amptelike verklaring bevestig dat die virus in diere aan die Oos-Rand en ook aan die Midvaal-kant van die R550 aangetref is.

Volgens Patricia Hutcheson, lid van die Midvaal se burgemeesterskomitee vir finansiële dienste, is daar twee bevestigde gevalle aan die Midvaal-kant, terwyl die groter uitbraak aan die Ekurhuleni-kant is.

As voorsorgmaatreël is gedeeltes van Witkopweg vir verkeer gesluit.

Beheermaatreëls is ingestel om die beweging van vee, mense en verkeer te beperk. Foto: Christiaan Cloete

Die departement van landbou en landelike ontwikkeling waarsku dat die bek-en-klouseer-virus hoogs aansteeklik is en hoofsaaklik versprei deur die beweging van besmette kloudiere, asook deur besmette voertuie en mense.

Beheermaatreëls sluit die beperking van beweging van vee, mense en verkeer deur hoërisiko-gebiede in.

‘n Waarskuwing wat deur die departement van landbou uitgereik is rakend die uitbreking van bek- en klouseer in die Midvaal-gebied. Foto: Christiaan Cloete

Die publiek, veral plaaswerkers en vee-eienaars, word gemaan om streng biosekuriteitsmaatreëls te volg.

Die Wet op Dieresiektes vereis dat grondeienaars en diere-eienaars alle redelike stappe moet doen om die verspreiding van siektes te voorkom, dit aan die direkteur aan te meld en aan enige voorskrifte of direktiewe te voldoen. Versuim om dit te doen, is ’n oortreding.

Die departement het reeds begin met entstofverkryging ter waarde van R72 miljoen, en verdere verspreiding sal dopgehou word.

Intussen word inwoners versoek om nie met vee in die betrokke gebiede te werk of te reis nie, tensy dit absoluut noodsaaklik is.

Gebarste blaas in die bek van ‘n koei met bek-en-klouseer. Foto: Wikipedia

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button