Inwoners stuur petisie van stapel om grondpaaie te teer
Inwoners van landelike gebiede in Midvaal voel hul suig aan die agterspeen.
MEYERTON – Inwoners van landelike gebiede in Meyerton het ’n petisie van stapel gestuur om druk op die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit te plaas om Hahns-, Willie van der Merwe- en Totiusstraat te teer.
Collin Meyer, wat die petisie begin het, sê die grondpaaie is onveilig en veroorsaak daaglikse ongerief. “Veral in nat weer raak die paaie gevaarlik glyerig en ongelyk. Die stof benadeel ons gesondheid en maak voertuie stukkend.”
Hy glo padinfrastruktuur is ’n basiese munisipale verantwoordelikheid. “Teerpaaie is ’n reg, nie ’n luukse nie,” sê Meyer, en verwys na navorsing wat toon dat behoorlike paaie die risiko van noodlottige ongelukke met tot 11% kan verminder.
Teken die petisie hier.
Gerrit Viljoen, raadslid vir Wyk13 van die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit, het ons na die burgemeesterskomiteelid vir Paaie en Veiligheid, Chantal Gomes, verwys.
Volgens Gomes is ’n petisie nie die regte prosedure nie.
“Ek was bewus dat ’n petisie moontlik op pad is en het selfs advies gegee, maar die korrekte proses is deur die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP),” sê sy.
“Inwoners moet jaarliks IDPvergaderings bywoon waar hul ontwikkelingsprioriteite vasgestel word. Saam met die wyksraadslid word ’n top vyf-lys opgestel. Slegs projekte op hierdie lys, of wat wel in die IDP is, kan oorweeg word vir befondsing.”
Gomes sê Midvaal het meer as 600km grondpaaie, en hoewel hulpbronne beperk is, word vordering gemaak. “Riversdale het byvoorbeeld vyf paaie in drie jaar laat teer.”
Die petisie versprei steeds aanlyn en in die plaaslike gemeenskap. Inwoners word aangemoedig om aan die IDP-proses deel te neem om hul paaie op die prioriteitslys te kry.
