News

Gemeenskap kom byeen om oor hantering van vloede te besin

Die doel van die ontbyt was om oor uitdagings te besin en die pad vorentoe te bespreek.

MEYERTON – ’n Spesiale ontbyt is op 23 Mei by Lions Creek op die Plaaskombuispad gehou om hulde te bring aan die toegewyde rolspelers wat gehelp het tydens die onlangse vloede in Drie Riviere.

Die ontbyt, wat deur Dalene Venter, raadslid vir Wyk 1 van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit, byeengeroep is, het lede van die gemeenskap, wykkomiteelede en plaaslike sakelui byeengebring om oor uitdagings te besin en die pad vorentoe te bespreek.

Die vloede, wat gevolg het nadat daar tot 10 sluise by die Vaaldam oopgetrek is, het aansienlike skade in Drie Riviere en ander gebiede verder stroomaf veroorsaak.

Venter het haar opregte dank uitgespreek teenoor almal wat betrokke was by die rampbestuursreaksie.

“Elkeen se bydrae was van deurslaggewende belang en ons sou nie sonder julle kon funksioneer nie – dit het gesorg vir die veiligheid, sekuriteit en bystand aan inwoners wat deur die vloed geraak is,” het sy gesê.

Die ontbyt het ook gedien as ’n platform om die reaksie te evalueer en hulpbronbehoeftes vir die toekoms te identifiseer.

Een van die sleutelrolspelers teenwoordig was Pieter van Nieuwenhuizen van die Sedibengdistriksmunisipaliteit se Rampbestuurspan, wat die noodreaksie tydens die ramp gekoördineer het. Met dekades se ondervinding in rampbestuur was sy bydrae van onskatbare waarde. ’n

Rampbestuurskomitee is tydens die vergadering tot stand gebring en daar is ook besluit om riglyne aan die publiek beskikbaar te stel om bewusmaking en paraatheid te bevorder.

Venter het die beroep gedoen dat lede van die gemeenskap betrokke moet raak en toekomstige vergaderings moet bywoon.

Sy het beklemtoon dat inwoners hulle nie moet steur aan allerlei groepies op WhatsApp nie, maar dat daar eerder via die raadslid gekommunikeer moet word om misverstande en onnodige paniek te voorkom.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button