Twee beseer toe motor deur motorhandelaar se heining jaag
Die motor het Saterdagaand deur New Vaal Motors se heining gebars.
VEREENIGING – Twee mense is Saterdagaand beseer toe ’n voertuig gerol en deur die heining van New Vaal Motors, ’n Mercedes-Benz-handelaar, gebars het.
Die voorval het net voor 19:45 op Saterdagaand 14 Junie plaasgevind. Volgens ’n verslag van die sekuriteitsmaatskappy Sekuriteit Sonder Grense is ’n reaksiebeampte om 19:44 na die toneel ontbied. Die beampte het vier minute later opgedaag en drie staatsambulansse reeds op die toneel aangetref.
Die insittendes van ’n grys Nissan Micra was glo op pad in Van Riebeeckstraat in die rigting van die Astron-vulstasie onderweg toe hulle probeer het om op die oprit na Vanderbijlpark te draai.
Te oordeel aan remmerke op die pad het die voertuig vermoedelik teen ’n hoë spoed die randsteen getref en beheer verloor voordat dit sowat 10 meter verder deur die palisadeheining van New Vaal Motors gebars het.
Die motor het gerol en sowat 20 meter van die heining beskadig voordat dit op sy dak tot stilstand gekom het.
Beide insittendes is met beserings na Kopanong-hospitaal vervoer.
