Driedubbele groennommer vir Marathon Malie (67)
Malie hardloop nie net wedlope nie – sy trap stories in elke myl.
VANDERBIJLPARK – Malie van der Walt (67) is so te sê ‘n lewende legende in Vaaldriehoekse marathonkringe.
Sy het vanjaar haar 30ste Comrades-marathon voltooi en sodoende haar driedubbele groennommer verwerf.
Dit is ‘n eer wat slegs nege vroue in die geskiedenis van die Comradesmarathon tot dusver behaal het.
In 2024 het siekte haar 30ste poging gekelder, maar vanjaar het sy suksesvol teruggekeer. Sy het die 2025-wedloop in 10:51:28 voltooi.
“Ek is nie jou gewone ouma nie,” lag sy. “Ek sal eerder in ’n boom klim as koekies bak.” Hierdie uitkyk en lewenslus het haar al meer as drie dekades op die pad gehou.

Van helper tot deelnemer
Malie se reis het in die 1980’s begin toe sy haar man Mike tydens Comrades langs die pad ondersteun het.
Sy het gou moeg geraak vir die wag en het toe besluit om self te hardloop.
Ten spyte van rumatiekkoors as kind en aanvanklike borspyn, het sy haar eerste Comrades in 1993 voltooi, en boonop vir Mike met ’n uur geklop. “Hy wou my leer asemhaal. Ek het hom net verbygestap,” skerts Malie.

Seer voete en kaal voete
Malie het verskeie Comrades onder nege uur voltooi, en het selfs in 1996 in 7:58 klaargemaak.
Dit was nie altyd maklik nie. In een wedloop het haar nuwe skoene só erg geskaaf dat sy na die halfpadmerk vir 12 km kaalvoet gehardloop het. Toe sy weer die skoene aantrek (omdat die teerpad te warm geraak het) was haar een kous weg. Sy het daai jaar met bebloede voete die eindstreep gehaal.

Steunpilaar in die Vaal
As jarelange voorsitter van AVT se padwedlope-kommissie is sy ’n steunpilaar in die Vaal se atletiekkringe. “Ek is soos ou meubels,” spot sy.
Malie het haar laaste Comrades saam met haar dogter Michelle (haar 5de) en die ervare Coenie Herbst (31 wedlope voltooi) gehardloop.
Die Comrades legendes Bruce Fordyce en Alan Robb, het na die wedloop haar driedubbele groen nommer aan haar oorhandig.

Tyd om te rus
Malie is onlangs met velkanker gediagnoseer en dit het haar tot die besluit gebring dat die tyd aangebreek het vir haar om langafstand-hardloop vaarwel te wuif. “Ek is klaar. Maar hardloop was my vreugde, my verslawing.”
Malie laat ’n nalatenskap van durf, humor en deursettingsvermoë agter.

