News

Van vriende tot ultramarathonatlete: Dopsquad voltooi Comrades saam

Hulle noem hulself die Dopsquad aangesien hulle graag ‘n biertjie na taai oefensessie drink.

MEYERTON –’n Groep vriende wat saam begin oefen het, het op 8 Junie ’n indrukwekkende mylpaal saam behaal toe lede van die sogenaamde Dopsquad die moordende Comradesmarathon voltooi het.

Die wedloop oor bykans 90km is ‘n toets van uithouvermoë, vasberadenheid en kameraadskap.

Dié groep, bestaande uit Snyman Prinsloo, Jean Blom, Jackie Calitz, Attie Brits en Lindi Penning, is almal lede van die Meyerton Atletiekklub. Vir hulle was hierdie reis oor baie meer as net kilometers en medaljes – dit was ’n verhaal van lojaliteit, lag, en liters sweet.

“Ons het elke oggend 04:00 geoefen. As een van ons moeg was, het iemand ’n WhatsApp gestuur: ‘Jy’s nie moeg nie. Trek daai tekkies aan,’” vertel Prinsloo. “Ons het onsself die Dopsquad genoem – ja, ons het daarvan gehou om ná ’n lang sessie saam ’n bier te drink, maar dit het vinnig iets veel groter geword.”

Lede van die Dopsquad met hul Comrades medaljes. Van links: Jean Blom, Jackie Calitz, Attie Brits, Lindi Penning en Snyman Prinsloo.

Van spoed na uithouvermoë

Alhoewel Prinsloo dalk die bekendste naam in die groep is – hy was deel van die Suid-Afrikaanse 4x100m-span wat silwer gewen het by die 2006 Statebondspele – beklemtoon hy dat die Dopsquad se storie nie oor hom alleen gaan nie. “Ek was gatvol vir die baan. Ek wou altyd die Comrades hardloop. My vriend Pieter Walters het my aanvanklik uitgedaag om die Comrades saam met hom te hardloop, maar dit was die groep wat my elke dag daar gehou het.”

Die voorbereiding vir vanjaar se Comrades het eintlik al drie jaar gelede begin, maar die afgelope 18 maande is spesifieke op die wedloop gefokus. Biokinetici, oefenskedules, en selfs voedingswenke is gedeel en bespreek.

Snyman Prinsloo was deel van die Suid-Afrikaanse 4x100m-span wat silwer gewen het by die 2006 Statebondspele.

‘n Wedloop van emosie, musiek en medaljes

Wat Snyman verstom het was al die ondersteuning wat hy op die roete gekry het. “Jy voel soos ’n celebrity – mense roep jou naam,” vertel Prinsloo. “’n Oom het gesê hy word 70, en die ander atlete het spontaan begin sing. Die kameraadskap is ongelooflik.”

Onder die groep was daar oomblikke van inspanning en inspirasie. Prinsloo vertel hoe hy op 50km krampe gekry het en byna momentum verloor het. “Attie het omgedraai en gesê: ‘Ek’s hier vir jou.’ Dis toe wat ek weer aan die gang gekom het.”

Vir die Dopsquad was die Comrades nie net ’n fisieke uitdaging nie, maar ook ’n simboliese bevestiging van hoe sterk mense saam kan wees as hulle mekaar ondersteun.

Lede van die Dopsquad by vanjaar se Vaal Marathon in die aanloop tot Comrades.

Die pad vorentoe

Almal in die groep beplan om terug te keer volgende jaar – veral om die gesogte Back-to-Back-medalje te verwerf, wat toegeken word aan deelnemers wat hul eerste twee Comrades-uitslae in opeenvolgende jare voltooi.

Walters moes vanjaar weens ’n besering onttrek. “Maar hy was in ons gedagtes. En hopelik hardloop hy volgende jaar weer saam,” sê Prinsloo.

Die Dopsquad.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button