News

Donjuan van Heerden wen groot en boks vir sy pa se droom

Hy’t gewen met sy vuiste, maar vir sy pa se droom geboks.

Meyerton se Donjuan van Heerden, net 24, het op 5 Julie die bokswêreld herinner dat sy hande en hart ewe swaar weeg. Hy het die onoorwonne Kaapse vegter Dean Promnick in die 10de ronde geklop by die Titans of Africatoernooi en die ABU Afrika middelgewig-titel syne gemaak.

Sy rekord staan nou op 10-3. “Ek het agt weke hard gewerk, twee keer per dag geoefen en 14kg in drie en ’n halwe weke verloor,” sê hy.

“Ek moes vir Rodney Berman (die bokspromotor) en Golden Gloves wys ek’s reg.”

Donuan van Heerden laat die houe op Dean Promnick neerreën. Foto’s: Steven Macuacua

Van Heerden het reeds in die eerste ronde Promnick platgeslaan, maar het doelbewus die geveg langer laat aanhou. “Ek wou wys ek kan tien rondtes gaan,” vertel hy trots.

“Ek het hom met liggaamshoue (body shots) begin aftakel en kon hoor hy kry swaar met elke hou.”

Vir hom is dié gordel egter meer as net ’n titel. Dit is ’n tree nader aan die droom wat sy pa, Danie van Heerden, vir hom gehad het. Donjuan se pa is in 2020 doodgeskiet ná ’n woordewisseling met ‘n sekuriteitswag in Meyerton, ’n voorval waarvan die skokkende video destyds wyd versprei is. Donjuan was saam met sy pa toe die tragedie plaasgevind het.

“My pa het altyd geglo ek gaan eendag ’n wêreldtitel wen. Hierdie wen is vir hom,” sê Donjuan.

Donjuan van Heerden en sy pa, wyle Danie van Heerden.
Foto: Facebook

Hy onthou hoe sy pa hom al op driejarige ouderdom na die gimnasium gesleep het.

Aanvanklik het hy boks gehaat aangesien hy elke keer met ‘n bloedneus of blou oog by die huis aangekom het, maar later was dit die ander se neuse wat gebloei het.

Sy grootste terugslag? Sy eerste professionele geveg teen Simon Dladla toe hy net 16 was. “Ek het daai fight verloor, maar dit het my geleer jy moet 100% voorbereid wees voor jy in die kryt klim.”

Vandag is Donjuan se kinders, Renaldo en Zinnique, sy grootste inspirasie en dryfveer. “Ek wil iets vir hulle agterlaat as ek nie meer hier is nie.”

Donjuan van Heerden bult sy spiere voor sy geveg teen Dean Promnick.

Donjuan se raad aan jong opkomende boksers is om deur te druk en aan te hou met wat hulle doen. “Daar gaan tye wees wat jy jouself bevraagteken, maar druk deur en glo in die Here, en werk hard. Hard work beats talent,” meen hy.

Donjuan bedank sy afrigter Arafaat Kock en bestuurder Colleen McAusland.

Hoewel hy nog nie sy volgende stap wil verklap nie, is een ding seker: Donjuan boks steeds met sy pa in sy hart en sy oë op die wêreldtitel.

Donjuan van Heerden met die ABU Afrika middelgewigbelt.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button