Vereeniging Rugbyklub vier nuwe tuisveld met sege
Vereeniging Rugbyklub skop nuwe era af met wen in hul splinternuwe tuiste.
VEREENIGING – Die Vereeniging Rugbyklub het op 5 Julie ‘n belangrike mylpaal bereik toe hy sy nuwe tuisveld by die Barnyard Vereeniging amptelik geopen het.
Dit is nie die eerste keer sedert die skuif vanaf Phoenix Hoërskool dat die klub op sy nuwe tuiste speel nie, maar wel die amptelike inwyding.

Die nuwe fasiliteit, geleë langs die Kliprivier, beloof om ‘n trotse nuwe tuiste vir plaaslike rugby te wees. Hoewel die dag ysig begin het, het die entoesiasme van spelers en ondersteuners die atmosfeer gou laat opwarm.
Verskeie spanne van die klub het die veld betree in ‘n reeks wedstryde teen Brakpan Rugbyklub.

Die eerste span van Vereeniging het in ‘n noue en opwindende wedstryd geseëvier met ‘n telling van 29-27, en só die geskiedkundige geleentheid op ‘n hoogtepunt afgesluit.
Die tweede span moes egter met 27-31 die knie buig, terwyl die o21-span met 13-40 verloor het.

Buite die aksie op die veld was daar ook aktiwiteite vir gesinne, insluitend springkastele vir kinders en verversings vir die publiek.
Met hierdie nuwe tuisveld begin daar duidelik ‘n nuwe hoofstuk vir Vereeniging Rugbyklub, een wat hopelik nog baie oorwinnings en rugbytrots vir die streek sal inhou.


