Local newsNews

Dit gaan broekskeur by Child Welfare SA Vanderbijlpark

Vanderbijlpark se Kinderwelsyn spook om hul kantoordeure oop te hou, maar staan steeds nie 'n aks terug om soveel moontlik kinders te red nie.

VANDERBIJLPARK – Hul staatstoelaag het drasties verminder, maar die nood word al hoe groter. Magda de Man staan aan die stuur van sake by Child Welfare SA Vanderbijlpark en baklei al die pad om die kantoor oop te hou.

Opgee is nie in haar woordeskat nie. “Ons red kinders. Ons haal hul van die straat af. Kry hul uit haglike huislike omstandighede. Tans is daar oor die 350 kinders op ons boeke.”

Magda de Man gesels kopstukke met een van die kleingoed op haar skoot.

Sy is dankbaar vir instansies soos die Rotariër Klub van Vanderbijlpark wat met Madibadag sop en serpe voor hul kantore uitgedeel het.

“Ek wens dis iets wat elke dag kon gebeur. Hierdie omgewing se mense sukkel baie om te oorleef.” Haar grootste bekommernis bly egter om die begroting te laat klop.

“Ons het weer vir Lotto-geld aansoek gedoen. Ons hoop om dit te kry, maar dit vat soms maande om in te betaal en dan dring hul daarop aan dat alles in een jaar spandeer moet word.”

Dit maak dit moeilik want dis beter om die geld te gebruik om die kantoor oor ‘n langtermyn aan die gang te hou.

Ten spyte van die moeilike finansiële omstandighede sorg die personeel dat hul moraal hoog bly.

Tans is hul grootste behoefte dat mense vorendag sal kom om hul petrol rekening, versekering en elektrisiteit elke maand te betaal. Dan moet hulle ook R2 500 per maand betaal vir Nashua vir al die drukwerk wat hul doen.

“Dis ‘n welsynskantoor, ons het baie papierwerk soos deur die staat vereis. Donateurs hoef nie ‘n sent direk aan ons te gee nie. Ek sal vir hulle die nodige nommers gee en hul kan net die rekeninge betaal,” pleit sy.

Die kantoor benodig R30 000 om hul deure oop te hou in die volgende twee maande, daarna behoort hul weer Lotto-geld te kry.

Hul staan nie net bakhand nie. Op 27 Augustus gaan hul ‘n spesiale Wynproe & Beesstert aand hou in NG Driehoek se kerksaal. Naas die lekker eet sal daar ook ‘n spesiale veiling wees met alles van kunsgoed tot by velle en wyn om op te bie.

Ds. Jan de Man tree as seremoniemeester op en die aand gaan daar lekker gekuier word. Kostes beloop R250 per persoon.

Kontak vir Magda by 084 533 4928 vir meer besonderhede oor hoe jy of jou besigheid kan help om die rekeninge te help betaal.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button