Werknemer van Vanderbijlpark-skool in hof oor diefstal
R15m het oor ‘n tydperk van 7 jaar uit die skool se bankrekeninge verdwyn.
VANDERBIJLPARK — ’n Voormalige werknemer van Laerskool Pinedene het vroeër hierdie maand op 4 Julie in die Pretoria Handelsmisdaadhof verskyn op aanklagte van die beweerde diefstal van sowat R15m.
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) word Aletta van Eck aangekla nadat fondse tussen Januarie 2013 en Desember 2020 geleidelik uit die skool se bankrekeninge verdwyn het.
Van Eck het voorlopig regshulp verkry en die verrigtinge is tot 25 Julie uitgestel vir die uitslag van die regshulpaansoek.
Die beskuldigde is beveel om dan weer in die hof te verskyn.
Dit bly tans onduidelik of ander persone moontlik ook by die beweerde misdryf betrokke was.
Laerskool Pinedene is een van die gevestigde laerskole in Vanderbijlpark, en die aanklagte sal waarskynlik groot ontsteltenis onder ouers en die breër gemeenskap veroorsaak.
