News

Georgina vier 10 jaar by Wêreld Danskampioenskap

Welgedaan aan Georgina Jacobs en 15 van haar studente wat deel was van die SA span tydens die Wêreld Danskampioenskap in Spanjé.

VAALPARK – Die Dance World Cup – Finals 2025 het vanaf 3 – 12 Julie in Burgos, Spanjé plaasgevind. Onder die duisende dansers van oor die wêreld was daar ‘n span van 15 van Georgina’s Dance Studio.

Dit was hul dansinstruktrise en eienaar van die Studio se 10de jaar van deelname aan die Wêreldkampioenskap.

Van Georgina’s Dance Studio se dansers in Spanjé

Georgina Jacobs het in 2015 besluit om van haar studente af te rig om te kwalifiseer om Suid-Afrika te gaan verteenwoordig. Vir die afgelope dekade het van haar studente elke jaar gekwalifiseer.

“Dit verg baie harde werk en opoffering. Elke jaar is dit ‘n groot gesukkel om fondse bymekaar te skraap, maar ons kon dit nog elke jaar maak werk. Ek is so trots op my dansers en dis verdien.

“Die kompetisie was ongelooflik sterk die vir my ‘n voorreg en eer dat ek al ‘n dekade deel kan wees van die Wêreld Danskampioenskap,” sê Georgina wat ook ‘n dansonderwyseres is by Hoërskool Vaalpark.

Wat is mooier as Spaansedanse in die hartjie van Spanjé?

Hierdie jaar het 15 van haar dansers gekwalifiseer in 18 items om in Spanjé te gaan deelneem.

Die dansers wat deel was van die SA span was Abigail Burger, Anke Botes, Carla Alexandra Da Costa Ferreira, Emma Uys, Jana Jacobs, Jacqueline Moolman, Jemma Porter, Kutluano Motsei, Lebone Seodigeng, Lisa Oosthuizen, Maylie Claassen, Megan Joy Olivier, Shané van der Walt, Suzenke Saayman en Tracy Smith.

Vir van die kinders was dit hul eerste keer om aan so ‘n groot kompetisie deel te neem. Alhoewel niemand medaljes huis toe kon bring nie, het almal punte bo 80% verdien.

“Die kompetisie was ongelooflik sterk die jaar, maar die groep het dit geniet en baie geleer. Van my studente het ook die kans gehad om meesterklasse by te woon,” vertel Georgina.

“Ek haal my hoed af vir die studente se ouers wat hul 100% ondersteun en vir elke student wat elke jaar toegewyd met hart en siel oefen om te kwalifiseer.

“Dankie aan elkeen wat hierdie jaar se deelname moontlik gemaak het. Ons het onder andere ‘n fondsinsamelingsvertoning by die Barnyard in Vereeniging gehou. Hulle het ons baie gehelp.”

Natuurlik broei 2026 se kwalifiserende rondtes alreeds in haar agterkop, asook maniere hoe om fondse daarvoor in te samel, want Georgina’s Dance Studio het nog nie hul laaste wêreld kampioen opgelewer nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button