News

Countrysanger en eks weer terug by mekaar ná 37 jaar

Soms vlieg die duif weg… maar ware liefde vind altyd haar pad terug.

VEREENIGING – Bykans vier dekades nadat Tony Knight, geliefde Afrikaanse countrysanger, en sy eerste vrou Debbie, van mekaar geskei het, het hulle weer mekaar gevind.

Dit klink soos soos iets uit ’n lied… en dit was.

Die country sanger, gebore en getoeë in Vereeniging, en sy Debbie is in 1979 getroud, maar hul huwelik het in 1988 op die rotse geloop.

Tony Knight gesels met Vaalweekblad oor sy musiek, liefde en die lewe. Foto: Christiaan Cloete

Kort daarna het Tony die hartroerende lied Soos Net Jy Kan Verstaan geskryf – geïnspireer deur die seer van hul skeiding.

Die lied het sy loopbaan gevorm, maar hy het nooit geweet dat dit ook sy lewe sou verander nie.

Tony Knight en sy Debbie, jare gelede. Foto: Verskaf

In Januarie 2023, ná 37 jaar, het Debbie hom onverwags gekontak.

Hulle het by ’n Spur ontmoet – die eerste keer van aangesig tot aangesig in bykans vier dekades.

“Sy het vir my dankie gesê vir die twee pragtige kinders (Jacques en Chantal) wat ek haar gegee het,” onthou Tony van die ontmoeting.

Tony Knight in sy jonger dae. Foto: Verskaf

Net twee maande later is hul seun Jacques (41) tragies in ‘n fratsongeluk oorlede. Hy het van die trappe by sy dubbelverdiepingwoning af geval.

Daardie verlies het hulle saamgebring, en die liefde het weer vlamgevat.

“Toe ek haar sien, het al die woede verdwyn. Net liefde het oorgebly,” vertel Tony.

“As iemand my daardie dag in 1988 gesê het ons sou weer saam wees, sou ek hulle nie geglo het nie.”

Tony Knight en sy Debbie voor hul egskeiding.

Debbie speel nou die hoofrol in die musiekvideo van Soos Net Jy Kan Verstaan – die lied wat hy destyds vir háár geskryf het.

 

Al is hulle nie weer getroud nie, leef hulle nou saam as lewensmaats. ’n Tweede kans wat min mense kry.

Tony (69) het pas ’n nuwe platemaatskappy-kontrak geteken en beplan nóg musiekvideo’s, insluitend een in Muizenberg, waar hy en Debbie destyds wittebrood gevier het.

“Ware liefde sterf nie,” sê hy. “Soms vlieg die duif weg… maar as dit ware liefde is, kom sy terug.”

Tony Knight se Debbie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button