VEREENIGING – Die Vereeniging Rugbyklub se paadjie na die eindstryd van die Valke Peregrine-liga lyk soos ‘n reguit geteerde pad sonder slaggate, kinkels of draaie mits hy deur ‘n opslagbal getref word.
Dit volg nadat hy Saterdag ‘n begeesterde span van NWU Vanderbijlpark op die oewers van die Vaalrivier met 49-29 tot oorgawe gedwing het.
VRK se Wayne Weyers wat tot dusver ‘n puik seisoen beleef, is as die Speler van die Wedstryd aangewys na sy twee kuns aan drieë. Hy kon ‘n driekuns behaal het, maar het digby die doellyn onbaatsugtig die bal aan André Smith uitgegee.
Hoewel die studentespan met geesdrif gespeel het, het VRK te gereeld gate in hul verdediging gepons. Voorlangs was dit ‘n reuse-stryd maar VRK het uiteindelik die tweestryd gewen met sy immergroen strydos Dawie Daffue wat op stut die lewe in die vaste skrums vir sy teenstanders hel gemaak het.
Die twee spanne sal mekaar weer op 9 Augustus in Vereeniging in die halfeindronde van die liga aandurf. Springs en Brakpan, die voorloper in die liga sal in die ander halfeindstryd slaags raak om te bepaal wie tot die eindstryd deurdring.
In Peregrineliga vir o21-spanne is die NWU Vaal bo-aan die punteleer met 31 punte gevolg deur Brakpan op 28 punte en Vereeniging op 14 punte. NWU is steeds onoorwonne met ses seges en een gelykop uitslag.
PUNTEMAKERS: VEREENIGING 49: Drieë: Wayne Weyers (2), Sweef Potgieter (2), Thabu Tau, Attie Jansen van Vuuren, André Smith
Doelskoppe: Brandan Hewitt (4). Strafdoele: Hewitt (2).NWU Vaal: 29: Driee: Melbirt van der Spuy, Wihann Mcgeer, Ruan Oosthuizen en Zuan le Roux. Strafdoele: Dylan Smit. Doelskoppe: Dylan Smit (3).
